Snelweg Kimberley het ‘n nuwe huis
Dit gaan goed met die hond wat Dr. Letitia Swartz langs die snelweg gered het. Sy is tydelik Kimberley gedoop. Lees hier hoekom die naam pas.
SASOLBURG – Almal ken haar as die veearts met die sagte hart en vrolike lag. Letitia Swartz het altyd tyd vir diere, maak nie saak hoe groot of klein die diere is nie.
Geen wonder sy het die naweek spandeer op soek na ‘n hond langs die snelweg nie. Dit het alles Vrydagmiddag begin.

Letitia het die swart en wit hond onder die brug langs die wildkamp gesien. Sy het ‘n halsband gaan haal en die hond gaan soek. Sy het haar man PG gebel.
Hy het ook gaan soek en gesien hoe ry iemand die hond rakelings raak, en toe laat spaander sy in Vanderbijlpark se rigting. Saterdag het Letitia weer na die hond gaan soek, maar kon haar nie kry nie.
Sondag het sy ‘n inskrywing op Facebook gesien dat die hond naby Sasolburg is. “En ek begin stap. En ek bid. Here, as sy hier is wys haar vir my. En toe staan sy daar, ten spyte van my klein geloof, dat die Here net soms vir ons moet wys: ‘EK HOOR JOU LETITIA’,” vertel sy.
Sy het vir PG gebel om te kom help. Uiteindelik, tussen modder, verkeer, knapse kêrels en vullis het Letitia die hond gelok met beskuit. Sy het met hond en al agter op die bakkie geklim en hulle het haar na Letitia se praktyk geneem.
Dinsdag het Letitia laat weet die hond is oukei. Kimberley (so gedoop deur die joernalis) het ligamente in haar agterbeen geskeur en daar is ‘n lelike wond aan haar been.
Sy is intussen gebad en eet baie mooi. Kimberley is ook Woensdag gesteriliseer. “Dis die oulikste, lieflikste hond,” vertel Letitia. “Sy is nie gechip nie, so ons kan nie haar eienaar opspoor nie.”
Gelukkig het Letitia se beste veearts vriendin vanuit Kimberley laat weet sy sal die hond aanneem. Wat haar nuwe mens-ma haar gaan noem is nog onseker, maar vir nou sal sy Kimberley bly.
