Vaal skoonheidskoningin droom groot
Die jong skoonheidskoningin van die Vaaldriehoek geniet modelwerk terdeë en het al heelwat kompetisies gewen.
MEYERTON – Sy was as Mej. Sedibeng gekroon in 2023 en nou is Katelynn Pienaar een van die finaliste in die Opulent Models South Africa 2026 kompetisie. Sy neem in die vroue runway kategorie deel.

Katelynn is gebore in die Vrystaat en die gesin het ‘n tyd lank in Durban gebly, voordat hul 13 jaar gelede Meyerton toe verhuis het. Sy het aan die Hoërskool Dr. Malan gematrikuleer en het onder andere ‘n graad in sielkunde. Katelynn het op ‘n stadium skoolgehou, maar is tans in die logistieke bedryf.
Haar grootste droom is om eendag haar eie modelskool oop te maak waar sy ander kan leer en motiveer. Modelwerk loop sterk deur haar are.
Sy was maar twee jaar oud toe sy met modelwerk begin het en het haar eerste kompetisie gewen toe sy vyf jaar oud was.
Daarna het die gogga haar behoorlik gebyt en geniet sy dit om modelwerk te doen. Volgende jaar wil sy graag staan in die Miss Global SA kompetisie.
Vir nou konsentreer sy egter op die Opulent Models SA kompetisie. Die gala aand vind 20 Augustus plaas.

“Ons het Saterdag opleiding gehad en 19 Augustus is die kleedrepetisie. Ek kan nie wag vir die gala aand nie. Ek wil net op die loopplank wees,” vertel sy opgewonde.
Katelynn sê sy is dankbaar vir haar goeie ondersteuningsnetwerk, veral haar ouers en ouer broers wat so ver as moontlik al haar kompetisies bywoon.
Ons wens haar sterkte toe vir die groot aand in Augustus.
