‘n Hart vir die lewe se afvlerk-voëltjies
Sy praat van haar Toeka-tieners. Vir Bryanette is die inwoners haar oupas en oumas wat sy nooit gehad het nie.
VANDERBIJLPARK – Bryanette Havenga staan aan die stuur van sake by Eliznette Bejaarde Akkommodasie. Sy het nie beplan om langtermyn akkommodasie vir bejaardes op hul kleinhoewe te verskaf nie. Dit het net gebeur.
Bryanette en haar man, Havie, was op hul dag pastore in Sasolburg. Die idee was om ‘n kerk op die kleinhoewe te begin. Dit was totdat sy haar skoonma versorg het nadat dié se vriend haar net daar kom aflaai het. Skoonma het Alzheimer se siekte gehad.
Die woord het versprei en kort voor lank is hulle gekontak om nog bejaardes in te neem. Bryanette verwys na die bejaardes in haar sorg as afvlerk-voëltjies. Daar is tans 20 inwoners en die meeste het voltydse versorging nodig.

Vir Bryanette is die versorging van die inwoners ‘n passie. Sy wil hulle net gelukkig sien en maak seker die inwoners hoef nie bekommerd te wees oor etes, wasgoed of kamers skoonmaak nie.
“Nie almal wil hier wees nie. Van hulle verstaan nie hoekom hulle nie meer in hul eie huise kan bly nie,” sug sy. Die ergste is dat van die bejaardes se kinders hulle net daar afgelaai het en nie eens kom kuier nie.
“Ai, al wat die mense vra is om kontak met hul kinders te hê en drukkies. Hulle wil almal drukkies hê,” vertel sy. Dit breek haar hart. Sy doen haar bes om die atmosfeer op die kleinhoewe gesellig te hou.
Soms hou hulle saamsing-aande, daar is ‘n klein biblioteek en ‘n snoepie op die gronde. Die snoepie word deur een van die inwoners bedryf. Onlangs het almal handgebreide en gehekelde dubbelbedkomberse van die Vlytige Vingers-breigroep ontvang en vroeër vanjaar is daar met die hulp van Solidariteit Helpende Hand by die Rocking The Vaal fees gekuier.
Bryanette gesels lekker en haar lag is aansteeklik. Dis duidelik dat sy omgee vir die inwoners. Die inwoners het omtrent almal gesondheidsprobleme en min het mediese fondse. Vir Bryanette is dit verskriklik wanneer sy ‘n ambulans moet kry om een van haar mense na ‘n staatshospitaal te neem.
“Niemand moet alleen sterf nie. By Kopanong-hospitaal laat weet hulle nie eens die pasiënte se mense as iemand op sterwe lê nie,” vertel sy. Die Havengas doen doodsbegeleiding en sover hul kan, is hulle langs ‘n inwoner se bed as die persoon op sterwe is.
“Ek sukkel om afskeid te neem, maar al is dit vir my moeilik, bly ek by hulle tot op die einde. Jy weet, ek het nie oupas of oumas gehad toe ek groot geword het nie. Elkeen van hulle is my ouma of oupa,” en die trane sit sommer vlak.
Die Havengas het dalk nie aanvanklik beplan om in beheer van bejaarde-akkommodasie te wees nie, maar na amper ‘n dekade kan hulle nie hul lewe anders indink nie. “Die Here het geweet dis wat ek moet doen. Hier is nie altyd geld nie, maar met Sy genade is hier altyd genoe
