ROSSINI BLVD – VANDERBIJLPARK BUSINESSES

Rossini, ‘n heel gepaste naam vir dié boulevard (Retha Fitchat)

Die Vanderbijlpark Estate Company, of Vesco soos ons dit vandag ken, is in 1944 in die lewe geroep as ‘n nie-winsgewende organisasie wat die dorp ordelik moes laat ontwikkel. In Vanderbijlpark se beginjare het die dorpsbeplanning nooit “per ongeluk” of holderstebolder verloop nie. Elke aspek van die beplanning is eers deeglik deur die Vesco-raad oordink, verder bepeins en in vergaderings gedebatteer voordat finale besluite geneem is. Aanvanklik was die benaming van strate maklik want daar was min. Die Vesco-raad het besluit dat woonbuurte wat eerste uitgelê is, na veterane in die staalbedryf vernoem moes word. Om dié rede is mense soos Cornelis Delfos, wat in 1909 die Pretoria Coal, Power & Iron Syndicate gestig het, se nagedagtenis in een van die dorp se bekende boulevards verewig. Ander wetenskaplikes wat hulle op die gebied van yster en staal onderskei het, soos Bessemer, Krupp, Cort en Wright, is ook vernoem. Die strate wat hul name dra, is vandag baie bekend in die dorp, al weet min inwoners nog wie hulle was. Met die onwikkeling van elke nuwe woongebied is daar opnuut kopgekrap oor straatname en Vesco het die publiek aangemoedig om betrokke te raak. Destydse Afrikaanse politici is vernoem, en so ook militêre en historiese figure. Dr. S.I.W. Roos, destyds hoof van die Hoërskool Vanderbijlpark, het gevra dat Vesco ook Afrikaanse skrywers soos Pannevis, Hoogenhout en Von Wieligh moes insluit om die dorp ‘n Afrikaanse karakter te gee. Vesco het ingestem, maar die name het begin opdroog. Toe die strate in die SW5-woonbuurt name moes kry, is daar besluit op internasionale komponiste soos Vivaldi, Bach en Verdi. Die Italiaanse komponis Gioachino Rossini (1792 – 1868) het ook nie agterweë gebly nie. Rossini-boulevard, die grens tussen SW1 en SW5, het aanvanklik begin as ‘n gewone residensiële straat met sowat 100 huise. Hoewel Vanderbijlpark se stadsvaders aanvanklik baie streng was oor hersonering en nie ondernemings in woongebiede wou toelaat nie, het die karakter van Rossini-boulevard mettertyd verander. Dié besige straat het hom uitstekend geleen tot die ontwikkeling van klein en mikroondernemings. Die woonhuise is een-vir-een deur entrepreneurs opgekoop en laat hersoneer, veral na 2006 met die koms van Vaal Mall aan die noordelike punt van die boulevard. Vandag is byna 90% van die straat se voormalige woonhuise omskep in klein besighede of professionele praktyke. Hier kry jy vandag enigiets van prokureurs, ‘n mediese praktyk, sekuriteitsdienste, makelaars, finansiële administrateurs, gasverskaffers en leefstylklinieke tot selfoonwinkels en voertuig-ryskole. Dit blyk dat Rossini ‘n baie gepaste naam vir die boulevard is. Net soos die boulevard se huidige sakelui, was dié talentvolle komponis ook ‘n vasbyter en uitstekende entrepreneur. Hy was minstens twee keer in die selle nadat hy met sy destydse dorpsraad koppe gestamp en ‘n dispuut teen hulle verklaar het. Hy het blykbaar sy sake gewen en voortgegaan om een van die wêreld se suksesvolste komponiste te word. Baie van sy musiek, soos die Wilhelm Tell-overture, word tot vandag toe nog gereeld gehoor – selfs in TV-advertensies en “cartoons” soos Looney Tunes. Hy het in sy middel 30’s as ‘n skatryk man afgetree en nooit weer gekomponeer nie. Hy het die res van sy lewe, tot met sy afsterwe op 78 jaar in 1868, in weelde en voorspoed geleef.

 
Back to top button