
Verlede week het WITBANK NUUS berig van klippe wat deur motoriste se vensters gegooi word op die N4-snelweg.
Die laaste twee voorvalle het waarskynlik plaasgevind as gevolg van betogers wat op die Vosman-brug gestaan het. Sersant David Ratau, polisiewoordvoerder het ’n beroep op motoriste gedoen om hierdie voorvalle aan te meld by die polisie.
Op Maandag, 21 Augustus het hy kort na 06:00 ’n oproep ontvang van ’n motoris wat sê dat hulle weer besig is. Op hierdie dag was daar ook betogers wat gestaak het as gevolg van behuising in Lynnville.
Die man, wat verkies om anoniem te bly, het gesê dat hulle op pad na Nelspruit was tydens die voorval en dat hy gesien het dat die voertuig voor hulle met klippe bestook word.
“Ons moes omdraai toe ons dit sien. Dit het ook by die Vosman- brug plaasgevind en ek het sers. Ratau kort na 06:00 geskakel om dit te rapporteer,” het die man gesê.
Sers. Ratau het ook gesê dat hy dadelik die kontrolekamer geskakel het en ’n polisievoertuig uitgestuur het.
Me. Irma Koegelenberg het ook op Dinsdag, 22 Augustus onder klipgooiers deurgeloop.
“Ek en my seun het op die N4-snelweg gery en hy het net skielik geskree: ‘pasop!’ Ek het net my oë toegeknyp en die slag gehoor,” het sy vertel.
Sy het verder bygevoeg dat twee mans bande op die snelweg gepak het en daar nêrens plek was om uit te swaai nie.

Me. Irma Koegelenberg se voertuig is Dinsdag, 22 Augustus met klippe bestook op die N4-snelweg (foto: verskaf).
“Jy kan oor die bande ry of deur die klip getref word. Ek het nie geweet wat om te doen nie, net aanhou ry,” het sy gesê.
Sy het vertel dat dit naby Highveld plaasgevind het en dat die mans langs die pad staan en die voertuie van die kant af met klippe gooi.
In verlede week se artikel is daar ook berig dat me. Renè Lewis hierdie voorval aangemeld het by TRAC N4. Dit was na een van haar bestuurders van Kemptonpark na eMalahleni onderweg was en dat dit in die aand plaasgevind het. Die bestuurder het beserings opgedoen en hy het omgedraai en Bronkhorstspruit toe gery, na sy laaste veilige stop daar was. Dit is genoem aan me. Solange Soares, kommunikasiebestuurder van TRAC N4. Sy het bevestig dat daar wel ’n oproep gemaak is, nadat die rekord van die oproep getrek is.
“Die motoris het nie die probleem duidelik uitgelig dat daar klippe vanaf ’n brug op die snelweg gegooi word nie, maar eerder gesê dat haar bestuurder aangeval is deur betogers,” het Soares gesê.
“Ons agent het gesê dat sy nie bewus is van protesaksie nie, en gevra vir die area van die voorval. Die motoris het aangedui, ongeveer hoe ver dit van eMalahleni is, en nie die presiese kilometermerk nie, wat dit baie moeilik gemaak het vir die agent om vas te stel waar presies die probleem was.”
Soares het ook verlede week gesê dat hulle, as TRAC N4 geen wetstoepassing op die snelweg het nie, en dat hulle die polisie in kennis stel wanneer voorvalle aangemeld word.
Motoriste word gewaarsku om op die uitkyk te wees vir hierdie mense en dit dadelik te gaan aanmeld by die naaste polisiestasie.
Sers. Ratau het weereens die belangrikheid beklemtoon dat motoriste die polisie op hoogte moet hou wanneer so iets gebeur.
LEES OOK
https://www.citizen.co.za/witbank-news/97794/dit-reen-klippe-op-die-snelweg/
https://www.citizen.co.za/witbank-news/96407/sementblok-tref-kar-op-snelweg/
