
Het ons ’n regverdige en onafhanklike regstelsel in ons land? Sommiges sal ja sê en ander nee.
Die Engelsman sê hy weet nie so mooi nie. Terwyl hy ’n slukkie van sy whiskey en ‘eish’ neem verduidelik hy sy standpunt.
Zonder aanzien des persoons. Niemand is bo die wet verhewe nie. Dit is seker die twee hoof grondbeginsels waarop ’n regverdige en onafhanklike regstelsel gebaseer is.
Maar, in ons landjie werk dit nie heeltemal so nie. Nog ’n slukkie whisky en ‘eish’ en hy verduidelik kleurvol verder.
Kyk net hoeveel huidige en gewese politici, waaronder ministers, wat al lankal oranje pakke moes gedra het, loop nog vry rond.
Geklee in ontwerperspakke, skoene en horlosies van derduisende rande om hul polse in plaas van boeie. Dink maar net aan ons gewese president, die keiser van N’Skandalig wat verdink word van elke misdaad onder die son.
Dan is daar grootbek Julius Malema en sy trawante wat oral rassehaat aanhits. Moet nie vergeet van ander potensiële kandidate wat kwalifiseer vir oranje pakke nie, onder andere Ace Magashule en Mosebenzi Zwane konkelaars in die Estina melkplaas sage; blink Stefaans Malusi Gigaba, die Guptas se skoothondjie wie se naam keer op keer in staatskapings opduik en Brian Molefe en sy maters wat Eskom tot ’n kersfabriek gereduseer het.
Des van Rooyen wat die rekord hou vir die minister wat die korste termyn in ’n portefeulje gedien het. Hlaudi Motsoeneng wat met 80% plaaslike programme die SAUK tot bankrotskap bestuur het.
Bathabile Dlamini wat die armstes van die armes besteel het. Tom Monyane, Ben Ngubane en Anoj Singh wat ook met hul hand in die koekblik gevind is.
Dan is daar nog Lynne Brown, Dudu Myeni en Duduzane Zuma, die Guptas en nog vele ander. Dit blyk nou of die staatskaping emmer verroes en die gate begin vorm. En alles met net een doel, selfverryking.
Die Noord-Kaap ANC gewese leier, John Block gaan nou vir die volgende 15 jaar in die oranje pak geklee wees. Tensy hy die ‘shakes’ kry en na ’n jaar vrygelaat word. Maar hy is maar ’n klein vissie in die see van roofhaaie.
Indien die departement van korrektiewe dienste se begroting nie die koste van oranje materiaal kan bybring nie, kan ’n wet deur die parlement gejaag word dat rooi nou ook eintlik oranje is.
Dan sal die EFF leiers sommer hul oorpakke dra, dis nou te sê as Julius daarvoor te vinde is.
En hier in Emalahleni moet politici en bestuurders ook antwoorde gee oor hoekom Eskom se rekening nog nie betaal is nie.
Dis tyd dat iemand in hierdie land met sy regverdige en onafhanklike regstelsel ordentlike antwoorde gee.
