BlogsOpinion

Pas die verkeerswet toe

Sosiale media het gegons nadat ’n video opgesit is waarin ’n verkeersbeampte positief blaas op ’n alkoholtoetser nadat hy ’n paasbolletjie geëet het

Paasbolletjies was dié naweek kniediep in die moeilikheid.

Sosiale media het gegons nadat ’n video opgesit is waarin ’n verkeersbeampte positief blaas op ’n alkoholtoetser nadat hy ’n paasbolletjie geëet het.

En daar sien die Engelsman dié video raak en besluit toe dis die perfekte verskoning.

Ek blaai sommer terug na Vrydag toe en die Engelsman se verskoning vir die gras wat nie gesny is nie, paasbolletjies natuurlik.

Saterdag kon hy nie aandete opdis nie, want iemand onder die invloed van ’n paasbolletjie mag dalk net aan die slaap raak en aandete verbrand.

Sondag het hy ’n bietjie ingelê en sy verskoning … iemand speel dromme in sy kop nadat hy die vorige dag in die paasbolletjies ingevaar het.

Maandag het ek my voet neergesit en al die paasbolletjies self opgeëet.

Op ’n ernstiger noot … die paasbolletjies het wel gesorg vir lekkerlag kommentaar en verskonings vir die Engelsman, maar die feit dat mense steeds soos hul agterente ry, plaas ’n demper op die lawwigheid.

Die spoedkameras in die stad maak dat motoriste wel stadiger ry, maar hulle stop nie by ’n rooi verkeerslig of stopstraat nie.

Ek het myself die naweek daarop attent gemaak om na bestuurders se bestuursvernuf op te let en moet sê ek is bekommerd.

Ek hoop iemand wat toeps ontwerp lees dié stukkie raak en ontwerp ’n toep wat jou afneem wanneer jy oor ’n stopstraat of rooi verkeerslig ry sonder om te stop.

Met die boetes, ek glo daar gaan hope wees, kan die mislikepaliteit dan die slaggate vul.

Paasbolletjie in die hand raak die Engelsman weer baie slim en begin debatteer of verkeersbeamptes jou kan toesluit vir eet en bestuur?

Nou seg ek niks meer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button