HTS presteer by atletiek-skouspel
Die Hoër Tegniese Skool se hele atletiekspan het na Buffelspoort vertrek vir ’n spanbou, motiveringsessie en daarna is die aand met lofprysing afgesluit.
Op 2 Maart het die onderesteunersklub die afrigters en atlete bederf met ’n smaaklike ete en vroegoggend was almal slaggereed vir die jaarlikse atletiekfees in Rustenburg.
Op 3 Maart het die Bloues aan die Groep 1 en 2 PUK-Interskole byeenkoms op die prag stadion, Royal Bafokeng, te Rustenburg deelgeneem.
Sestien topskole was hier teenwoordig. HTS verower 11 goue, agt silwer en 12 brons medaljes. Baie atlete het hul persoonlike beste tye en afstande behaal en kon breëbors van die veld en baan afstap.
Shania-Lee Swart (16) is as die beste veldatleet gekroon met haar skitterende afstand van 41,42m (944 punte) in spiesgooi. Sy wen ook die trofee as Victrix Ludorum vir haar prestasie in gewigstoot, skyfwerp en spiesgooi. Verder ontvang Shania ook ’n geskenkpak van PUMA-skoene en Bokomo.

Pieter Künz (15) behaal in die 200m en 400m eerste plekke. Hy voltooi die 400m in 0:52:13 sekondes en die 200m in 23:02. Hy behaal 891 en 902 punte in die onderskeie items.
Karabo Nkambule (19) het die skare op hulle voete gehad en onder luide applous die 110m hekkies in 14:61 sekondes afgelê.
Hy spog ook met ‘n goue medalje vir driesprong en ‘n silwer medalje vir hoogspring.

Karabo Legodi (14) verwerf ’n goue medalje in die 90m hekkie item en Lezandi Pretorius (16) seil met gemak oor die hoogspringlat op ‘n hoogte van 1.60m. Righardt Burger (15) se verspring item besorg aan hom ook ‘n goue medalje met ‘n afstand van 5:94m.
Die o.19 seuns aflosspan het behoorlik hul laaste atletiek seisoen op ‘n hoë noot afgesluit in hul nuwe aflos-uitrusting en ’n briljante aflos.
Ses-en-dertig atlete het Saterdag 7 Maart aan die provinsiale kampioenskappe in Secunda deelgeneem.
