Local newsNews

Oud-polisieman sterf kort na 90ste verjaarsdag

"Ons harte lê aan skerwe maar ons is dankbaar vir die herinneringe wat ons met ons geliefde pa en oupa gedeel het."

Op ‘n trapstoeltjie met ‘n tuinvurk in die hand, was Karel Hendrik Smit altyd in sy pragtige tuin besig om met kleurvolle gesiggies en leeubekkies te gesels.

Dié oud-polisieman woon al 72 jaar in sy Northmead-huis en op 12 November het hy hier sy 90ste verjaarsdag gevier.

Karel het staaltjies oor sy reis tot dié ryp ourderdom met die Benoni City Times gedeel, kort voor sy dood op 13 November.

As ‘n jong spruit het Karel en sy nege sibbe hul grootwordjare in Griekwastad gespandeer.

Gedurende sy vormingsjare het hy aanklank gevind in die bokswêreld en op die ouderdom van 12 reeds amateurtitels in Zambië sowel as die Kongo vir ‘n kishou geslaan.

“My pa was ‘n nutsman en sy werk het ons na Benoni gestuur,” het die pa van drie gesê.

“Ek kan onthou hoe ek ure na skool langs die waters van Middle Meer gesit het. Die water het soos ’n spieël geskitter, alles was oop met net ’n paar winkeljies hier en daar.”

Met sy matrieksertifikaat onder sy arm sluit Karel by die SAPS Kollege in Pretoria aan en word kort daarna by die Benoni Polisie-stasie ontplooi.

“Ek het kortliks in die nuutgevonde Daveyton-lokasie gedien, Putfontein sowel as die Benoni SAPS-mechanisestoor. Dit is hier waar ek vlugtig die berugte polisiebeampte en bankrower, André Stander, met ’n amptelike staatsvoertuig verskaf het,” het hy met ’n glimlag gesê.

“Niemand het op daardie stadium geweet waarmee hy besig was nie.”

Foto van jong man in ‘n bruin univorm
Portret van Karel Hendrik Smit op sy troudag in 1956. Foto: Jani de Beer

Karel het weer teruggekeer na Benoni SAPS tot sy aftrede in 1993.

Met sy bruid, Magriet, van 69 jaar aan sy sy, sê Karel dat ten spyte van allerdaagse uitdagings en gesondheidsnukke en grille, was sy reis tot 90 ’n lied.

“Ek sal nooit die dag vergeet toe ek vir Magriet ontmoet het nie,” het hy gesê, sy oë sag van liefde.

“Ek was op voetpatrollie toe ek my engel van Elstonlaan gewaar het. Mense praat soms van liefde op eerste aansig, maar toe ek my Magriet gewaar het, het ek geweet sy is my sielsgenoot.”

Met ’n druk van die hand pronk dié patriarg met sy geliefde dogter Wilma en twee knap seuns, Frans en Herman.

“Die Smit-gesin het oor die jare verder uitgebrei en ek is die trotse oupa van nege kleinkinders en 10 agterkleinkinders.”

Met ’n hef van sy hand wat spreek van jare se harde werk en swoeg in sy vrolike tuin, sê Karel niks is moeite as jy jouself bemoei met wat jy liefhet nie.

Trane sit vlak in Wilma se blou oë, nes haar pa se sin: “Pa veg sedert 2006 teen prostaatkanker. As gevolg hiervan sukkel hy met sy rug en trots take soos tuinwerk is soms uitdagend. Ten spyte van alles bly pa positief en maak altyd tyd vir drukkies en grappies.”

Oor sy nege dekades sê Karel sy vertroue in God het hom nog nooit in die steek gelaat nie.

“Van ons huis in Bunyanstraat tot hier in Northmead het ek nie ’n dag betree sonder om die Here te dank vir sy genade nie en ek het nie in die bed geklim sonder om my bekommernisse voor Sy voete te lê nie,” het hy gesê.

“Om dié ryp ouderdom te bereik is net genade. Ek spoor vandag se jongmense aan om hul oë na God te rig in alles wat hulle doen en om daagliks te oefen, so sal hulle liggame en siele gesond bly.”

LEES OOK: KYK: 100 kersies vir tannie Bettie

LEES OOK: KYK: Musiek is vir Dodo Nyoka ‘n kommunikasiemiddel

   

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Jani de Beer

Jani went from working as a student intern for the Boksburg Advertiser to being employed as a junior journalist in 2004. Taking time out to start a family, she returned to the Caxton family in 2022 as senior journalist for the Benoni City Times. Her passion is telling her community's stories.

Related Articles

Back to top button