
In my oë is hulle almal nou helde en heldinne.
Ek erken dat ek met baie ander van die vroulike geslag die natuurlike instink deel om te sorg en te koester, maar ek kan nog ‘n goeie paar jaar wag voordat ek kinders van my eie sal hê, na my ervaring oor die Vrouedag naweek.
Familie vanaf Middelburg en Kaapstad, aan my ma se kant, het by ons kom kuier in Johannesburg, vir my tannie se 40ste verjaarsdag.
Tydens hul besoek het ek die eer gehad om tyd saam met my dierbare, jong niggie en twee nefies te spandeer.
My Kaapenaar neef is agt jaar oud, en sy sussie sewe.
My ander neef is ses jaar oud.
Op een dag van die okasie het ons die middag by Pet Masters in Boksburg spandeer, waar ons ‘n verskeidenheid diere soos hasies, skilpaaie en hondjies gesien en vertroetel het.
Die drie het op die klimraam gespeel wat binne die tee tuin gelee is, waarna ons die dag met ‘n roomys afgesluit het.
Wat my verstand tebowe gegaan het, was dat, na al die opwinding en rond gehardloop van die dag, was hulle nogsteeds nie moeg nie.
Vir my is kinders ‘n sonskyn in die lewe.
Hulle is onskuldig, energiek en vir my ‘n absolute plesier om mee tyd saam te spandeer.
Alhoewel dit ‘n wonderlike dag en naweek in geheel was, het ek gevoel of ek pas ‘n maraton gedraf het toe dit daai Sondagaand skemer geword het.
Ek was so buitengewoon uitgepit dat ek binne ‘n paar minute aan die slaap geraak het nadat my kop en kussing kennis gemaak het.
Hierdie scenario het my met splinternuwe oë na ouers laat kyk.
Hulle moet elke dag so agter hulle kinders aan hardloop, vir boetie sê om op te hou om vir sussie te boelie, in die winkels verduidelik hoekom hulle nie vir hulle al die speelgoed en lekkers wat hul harte begeer kan koop nie.
Jy moet vir hulle klere koop, wat deesdae dieselfde prys as volwassenes sin is en wat hulle bonop ontgroei voordat jy jou oë uitvee (Totsiens ontwerpersskoene.)
Die ergste deel is dat jy jou die heeltyd bekommer oor hulle veiligheid; is hulle warm genoeg, versadig genoeg, gelukkig genoeg, veilig genoeg?
Dan praat ons nog nie eers van die baba en tiener stadium nie.
Waar kry ouers al die energie?
My ma sê altyd dat jy al hierdie moeite uit die grootste liefde van jou hart doen as jy eers daai band met jou eie kind gevorm het.
Dit maak tog aan my sin nadat ek al my deel van die merkbare statestieke van tiener swangerskappe in Suid-Afrika gesien het, wie selfs skielik ‘n liefde ontwikkel het vir ‘n lewe waarvoor hulle eers gevrees het.
Miskien kanselleer die oulikheid en al die liefde wat die kindertjies het om te offer al daai uitpitting uit.
Miskien koester ‘n mens eerder elke oomblik wat jy met jou nakomelinge het omdat hulle juis nie vir ewig kinders bly nie.
Ek sal seker een dag weet …
Tot dan is ek maar heel tevrede met my honde en katjie om voor te sorg en verwelkom ek enige dag hartelik tyd saam met my jong geliefdes, so lank ek hulle aan hulle ouers kan terug gee.



