Schools

Oosies eerste rugbyspan besoek Boksburg DBV

Die rugbyspan het tydens die besoek 'n skenking gemaak aan die Boksburg DBV en selfs ingespring om die hokke skoon te maak.

Die eerste rugbyspan van Hoërskool Oosterlig het tydens ‘n onlangse besoek hul rugbystewels opsy geskuif om uit te help by die Boksburg DBV.

Hierdie inisiatief is van stapel gestuur nadat die eerstespanafrigters, Tom Deetlefts en Johard Barnard, die seuns meer betrokke wou kry by die gemeenskap.

“Om die DBV te besoek was een van die eerste gemeenskapsprojekte wat die span aangepak het. Hierdeur leer ons die seuns dat alles nie net gaan oor sport, rugby, of oor wen nie. Ons wil graag ‘n goeie beeld uitstraal en ons leerders leer hoe om terug te gee aan die gemeenskap, eerder as net rugby te speel.

Michaela Wagner van die Boksburg DBV vertel die eerste rugbyspan van Hoërskool Oosterlig meer oor die werk wat die DBV doen.
Hoërskool Oosterlig se eerste rugbyspan met van die items wat hulle aan die Boksburg DBV geskenk het.

“Dit was ‘n vinnige inisiatief. Ons het skenkings, soos hondekos en komberse, na die DBV geneem. Hulle het ook vir ons hulle sisteme gewys en aan die seuns verduidelik hoe alles werk. Die seuns het ook gehelp om die hokke skoon te maak. Hulle het dit verskriklik geniet.

“Baie van hulle het nie besef wat by die DBV aangaan nie, en hulle oë het oopgegaan. Dit was ook die doel van hierdie projek – om bewusmaking te skep onder die seuns,” het Deetlefts verduidelik.
Deetlefts het bygevoeg hulle het die skool se eerste netbalspan uitdaag om dieselfde te doen.

“Ons het dit gedoen sodat dit nie net ‘n projek is wat doodloop nie, maar iets wat ons vir die toekoms kan kweek en moontlik ander skole ook betrokke kan kry.

Gushé de Lange en Kyle Bergh, lede van die Hoërskool Oosterlig eerste rugbyspan tydens hul besoek aan die Boksburg DBV.

“Die volgende projek wat ons in gedagte het, is om ‘n kinderhuis te besoek en tyd saam met die kinders deur te bring. Miskien kan ons ‘n rugbybal saamneem en hulle meer oor rugby leer.”

Boksburg DBV bestuurder, Vicky Finnemore, het die seuns bedank vir hulle harde werk.

“Dit is goed om te sien dat die jeug die gemeenskap dien,” het sy bygevoeg.

Lees Ook: Oosterlig tops in Ekurhuleni-Suid

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button