Jansies besoek Voortrekker Monument
Hoërskool Dr EG Jansen het besluit om dié week hul top 10 presteerders uit elke graad vir ’n bederf uitstappie na die Voortrekker Monument te neem.
As die Voortrekker Monument deel van jou skoolwapen is, kan jy nie anders nie as om ’n hegte verhouding met hierdie prominente kultuur baken te bou.
Hoërskool Dr EG Jansen het besluit om dié week hul top 10 presteerders uit elke graad vir ’n bederf uitstappie na die Voortrekker Monument te neem.
Die groep van 50 leerlinge het Vrydagoggend vroeg vanuit Boksburg vertrek en by die kultuur tuiste aangekom waar hulle deur ’n burger op ’n perd met voorlaaier in die hand welkom geheet was.
Daarna is die Jansies deur die lewende laer geneem sodat hulle kon vat en voel, kon belééf hoe Afrikaner kultuur uit vervloë dae gelyk het.
By die plaaskombuis het hulle geleer hoe ’n regte boerebrood gebak word.

Volgens skoolhoof Freek Erasmus bederf hulle elke jaar die leerlinge wat uitsonderlik hard gewerk het.
Vanjaar het hy dit goedgedink om dié groep flinkdinkers vir ’n opvoedkundige toer na die Voortrekker Monument te neem.
“Ons probeer om meer geskiedkundige terreine te besoek en ’n trots vir die Afrikaanse taal en die Afrikaner kultuur by ons kinders te kweek.
“Ons kinders kry nie meer die geleentheid om hierheen te kom nie. Van hierdie 50 leerlinge was seker net 10 al voorheen by die monument,” sê hy.
EG Jansen is ’n trotse Afrikaanse skool en het dié week ook Afrikaans se 100ste bestaansjaar as amptelike landstaal gevier.

“Dit is vir my interessant om te hoor na hoeveel Afrikaanse musiek die kinders luister. As hulle sokkies en danse by die skool hou, kraai Afrikaanse musiek beslis koning. Die gebruik van Afrikaans is gesond onder ons kinders en daar is ’n trotse gevoel oor ons mooi taal,” het sy byvoeg.
Die toer deur die monument het die nuuskierige slimkoppe gaande gehad. Hulle het met ontsag die enorme struktuur bekyk en aandagtig geluister na die verhaal oor die Groot Trek wat in die wêreld se grootste fries narratief uitgebeeld word.
Samantha Joubert, organiseerder van die top 50 leerlinge, sê sy is dankbaar dat die Voortrekker Monument die volle geskiedkundige verhaal onbeskaamd vertel.
“Die kinders het opnuut geleer wat dit is om Afrikaans te wees en waardeur Afrikaners gegaan het om te kom waar ons vandag is,” het sy gesê.
Also Read: Baanbreker Voortrekkers vier mylpaal van 45 jaar
Also Read: Smullekker begin vir die Baanbreker Voortrekkers








