Schools

James en Niva Wright groet die onderwys

Met hul aftrede beplan die Wrights om die lewe rustiger te vat en tyd saam met hul doger, Marizané van Dijk.

James en Niva Wright, ‘n getroude paartjie van 37 jaar met ‘n gedeelde passie vir die onderwys, het onlangs besluit om na dekades hul rooipenne neer te lê.

Niva was vir dekades ‘n steunpilaar by Laerskool Concordia, terwyl James, skoolhoof van Hoërskool Brandwag vir die afgelope 16 jaar ook diep spore in die onderwys getrap het.

Sy het haar onderwysopleiding in 1986 aan Goudstad Onderwyskollege voltooi en in 1987 haar loopbaan as Graad Een onderwyseres by Laerskool Concordia begin.

Dié passievolle onderwyseres het in Oktober 1994 haar eerste departementshoof pos by Laerskool Baanbreker aanvaar en dié rol tot Julie 1996 vervul.

Daarna het sy teruggekeer na Laerskool Concordia, waar sy tot haar aftrede as departementshoof gedien het.

Niva was ook vir 16 jaar ‘lead teacher’ by die Departement van Onderwys en het gereeld gehelp met die fasilitering van programme soos wiskunde en lewensvaardighede.

Buite die klaskamer het Niva haar passie vir sport uitgeleef. Sy het nie net op skool aan sportsoorte soos korfbal en hoogspring deelgeneem nie, maar ook as afrigter van netbal, hoogspring en landloop opgetree.

“Ek het in 2009 die Suid-Afrikaanse o12-span afgerig wat ‘n brons medalje gewen het, en in 2010 weer, toe ons ‘n silwer medalje verower het. Ek het ook ‘n SA skeidsregter gradering gehad,” het sy vertel.
Niva het reeds op hoërskool besluit om onderwyseres te word.

“Tydens ‘n besoek aan die Goudstadse Kollege in Graad 10 het ek geweet dis wat ek wil doen. Al die jare was vir my fantasties. Ek is nie vir een dag spyt nie. Ek het nog altyd ‘n passie vir kinders gehad. As mense vir my en James vra wat ons stokperdjie is, sê ons: skool.”

Volgens haar was die liefde van die leerders en waardering van ouers hoogtepunte in haar loopbaan.

Oor alles wat verander het sedert sy die eerste keer voor ‘n klas gestaan, het sy gesê: “Tegnologie het natuurlik ontwikkel, maar by Concordia het min verander omdat dissipline altyd in plek was.”
Sy erken ook die groot invloed van skoolhoofde soos Anton Knoetze, Christo Lodder en die huidige hoof, Charel Blignaut, op haar loopbaan.

James, wat vakke soos ekonomie, besigheidstudies en rekeningkunde aangebied het, beskou dit as ‘n hoogtepunt om te sien hoe Hoërskool Brandwag oor die jare gegroei het – beide in leerder getalle en akademiese prestasies.

“Brandwag is ‘n uitmuntende skool met uitmuntende akademiese uitslae. Die skool presteer ook op sportgebied en het die afgelope paar jaar as algehele wenners van die Superreeks uitgetree,” het hy gesê.
James was afrigter van rugby, atletiek en skaak.

Met hul aftrede beplan die Wrights om die lewe rustiger te vat en tyd saam met hul doger, Marizané van Dijk. Hulle beplan ook om die land te verken.

Niva se raad aan die volgende geslag onderwysers is: “’n Mens moet soos ’n goeie boek wees — betroubaar, opreg en konsekwent. Dis hoe ek my loopbaan aangepak het. Jy moet bereid wees om die ekstra myl te loop en ’n toekoms te bou. Niks gebeur sonder harde werk nie.”

James voeg by: “Gee om en wees lief vir die kinders. Glo in elke personeel lid en elke leerder.”

Lees Ook: EG Jansen se hoof lê die tuig neer

Lees Ook: Geliefde meneer Nel tree af

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button