Stoffies se revue word mondig
Die Hoërskool Stoffberg bied vanjaar, vir die 21ste agtereenvolgende jaar, sy revue aan.

Vanjaar se revue beloof weereens ‘n reusagtige verhoog, energieke leerders, veelkleurige kostuums, ‘n uitstekende produksie en emosiebelaaide stemme.
“Die gehoor word uitgenooi om ‘n reis deur die opwindende tagtigerjare mee te maak en ons glo almal sal wil saam sing en dans,” het ‘n woordvoerder van die skool gesê.
“Dié jaar gaan Andanté Andanté se puik choreografie, unieke kostuums en uitstekende klank, asook die beligting, gehore se asems wegslaan.
“Die soliste gaan die gehoor verras en beloof om soms selfs ‘n knop in die keel agter te laat.”
Om die 21ste bestaansjaar van die skool se revue te vier word dit vanjaar in die skool se nuwe ouditorium aangebied.
Die revue vind vanaf 5 tot 10 Augustus plaas en kaartjies is by die skool se kantoor beskikbaar.
Vir enige navrae kan die skool by 011 740 0210 gekontak word.