`Sluipers’ vergiftig honde
Inwoners van Duncanstraat, in Brenthurst, is Vrydag in die vroeë oggendure getreiter deur booswigte, wat ook vier honde in die straat vergiftig het.

Een van die inwoners, wie se boerboel vergiftig is, het gesê dat die inwoners van die straat paraat is en, wanneer daar iets verkeerd gaan, word daar met mekaar kontak gemaak.
“Almal se honde het Donderdagaand net na 11nm begin onrustig raak en erg geblaf; dit het net nie opgehou nie,” het Maureen Harmse gesê.
“Ek het ‘n oproep van een van ons bure gekry, wat gesê het dat hy ‘n verdagte persoon in die straat opgemerk het.
“Baie van ons het uitgegaan, maar dit is asof die skuldiges net verdwyn het; hulle is soos sluipers in die nag en ek weet nie of hulle in die bome weggekruip het nie,” het Harmse gesê.
“Ons was nog buite toe ek sien dat een van ons boerboele gif ingekry het. Voordat ons kon optree is ons hond dood,” het sy gesê.
Volgens haar is drie Jack Russel honde van ‘n buurman ook vergiftig.
“Nog ‘n persoon wat in ons straat woon, het op ‘n stadium na die vulstasie gery vir sigarette en vyf mans gesien, wat verdag voorgekom het,” het Harmse gesê.
Volgens Harmse is die polisie oor die voorvalle ingelig.



