CrimeEditor's choiceNews

Inbreker dreig om vrou en huishulp te skiet

‘n 50-Jarige vrou en haar huishulp is Woensdagoggend in haar huis deur ‘n rower oorval en met die dood gedreig.

Die hele ervaring was vir Mary Vosloo erg traumaties en sy sê dat sy steeds nie weet hoe om die skrikwekkende ondervinding te verwerk nie.

Haar man, Willem (53), wat slegs ‘n paar minute voor die voorval by die huis gery het, is woedend.

“Ek is baie dankbaar dat my vrou niks oorgekom het nie, maar hierdie insident maak my baie bitter en beslis baie meer paraat,” het hy aan die Herald gesê.

Hy het Woensdag om ongeveer 10.30vm by hul huis in Cardiganstraat, Dalview, gery.

Mary en die huishulp, Monica (van nie bekend nie), was in die kombuis besig om kaste reg te pak.

‘n Persoon, wat die afgelope tyd verfwerk in die huis gedoen het, was op ‘n buitestoep besig.

“Slegs sowat 15 minute nadat Willem gery het, het ‘n onbekende man in die kombuis te voorskyn gekom; hy het my aan my bloes gegryp en gesê hy gaan ons doodskiet,” het Mary vertel.

“Die inbreker het vir my en Monica beveel om na die spaarkamer te loop.

“Ek weet nie hoe ek dit reggekry het om kalm te bly nie, maar ek het.

“Toe ons in die kamer kom het ek die duvet van die bed afgetrek en dit oor my en Monica gegooi; dit was benoude oomblike, want ek het nie geweet of hy ons werkik gaan skiet of nie.”

Tot Mary se verligting het die man deur die venster, in die spaarkamer, na buite geklim en saam met ‘n makker op die vlug geslaan.

Monica het gesien hoe die twee mans by hul hek uithardloop. Die een wat buite gewag het, het ‘n kussingsloop by hom gehad.

“Ek het die paniekknoppie gedruk om ons sekuriteitsmaatskappy te verwittig en ek het ook vir Willem gebel,” het Mary vertel.

“Die inbreker wat in die huis was moes ‘n skootrekenaar en kamera, wat in die spaarkamer was, vir sy makker, wat buite gewag het, aangegee het. Dit is waarskynlik in die kussingsloop geplaas,” het Willem vertel.

“Die inbreker het ook probeer om ‘n televisiestel, wat in ons kamer was, by die venster uit te kry, maar dit was te groot.

“Die Vosloos is stomgeslaan oor die gebeure. Die dief het die diefwering voor ‘n venter in die spaarkamer oopgebuig om toegang tot die huis te verkry.”

Willem is ook seker dat die diewe ‘n afstandbeheertoetstel vir sy hek gehad het.

“Hulle het by die groot hek ingekom en uitgegaan en die hek is so gemaak dat dit slegs met afstandbeheer oopgemaak kan word,” het hy gesê.

Nog iets waaroor hulle kop krap is ‘n groot mes wat sowat twee weke gelede in die grond reg langs hul hek gevind is.

“Daar is by bure van ons ingebreek en die volgende oggend het ons die mes, wat in die grond gesteek is, by ons hek gekry,” het Willem gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button