Hoërskool Die Anker het onlangs sy hoofleiers vir 2020 aangewys. Gabi Cameron is die hoofdogter en Christiaan Theron die hoofseun. Die twee leiers het vrae van die Herald beantwoord.
• Wat is die eerste ding wat deur jou kop gegaan het toe jou naam uitgelees is?
G: Ek was baie verbaas, maar dieselfde tyd baie opgewonde gewees en dankbaar dat die hoof, onderwysers en leerders vertroue in my gehad het om my te kies as ’n hoofleier van Hoërskool Die Anker.
C: Die aand toe hulle my naam gelees het was amper soos ’n ontploffing van emosies wat op een slag gebeur. ’n Gedeelte van die emosies was ongelooflike dankbaarheid en die ander gedeelte was verligting. ’n Mens probeer jou verwagtinge afskaal om reg te maak vir teleurstelling. Die spanning wat opgebou het tussen die leiers was ongelooflik erg. Die aand was egter so spesiaal vir my en ek sal dit my hele lewe lank onthou.
• Is dit ’n doelwit wat jy vir jouself gestel het?
G: Beslis was dit ’n doelwit van my. Elke leerder moet ’n ideaal vir hom/haarself stel om die hoogste te kan bereik.
C: Uit die aard van die saak strewe mens om verkies te word as hoofleier, maar ek besef ook dat dit absoluut net ’n voorreg is aangesien daar ’n hele proses is waardeur mens gaan voordat mens verkies word. Ek voel werklik geseënd dat die leerders en onderwysers my potensiaal gesien het om as hoofleier die skool te dien en my dus verkies het.

• Daar wag ’n jaar vol verantwoordelikhede op jou. Waarna sien jy die meeste uit?
G: Ek sien die meeste uit na die interaksie met die leerders en om by elke leerder ’n positiewe selfbeeld en gevoel van eie waarde, selfvertroue, selfrespek en respek vir ander te ontwikkel. Natuurlik ook volgende jaar se nuwe graad agt leerders.
C: Ek sien die meeste uit om saam met die res van die uitvoerende raad te werk. Ons is ’n gedugte span en werk baie goed in ’n groep saam. Ek sien uit na al die take wat ons saam gaan aanpak, soos byvoorbeeld om die graad agt leerders van volgende jaar touwys te maak en hulle te vorm as trotse Ankers.
• Watter uitdagings gaan jou ’n kopseer gee?
G: Elke dag gaan ’n nuwe uitdaging bied, maar ek gaan voortbou op my verhouding met my medeleerders asook die skool se beeld uitdra tot die beste van my vermoë.
C: Ek voel dat die graad agt leerders die grootste uitdaging gaan wees van die jaar. Gelukkig het ek ’n toegewyde groep leiers wat saam met my die taak gaan aanpak en baie goeie onderwyers en voogde wat ons in die regte rigting kan lei.
Lees ook: Anker warm op vir die atletiekseisoen
• Hoe sal jy graag onthou wil word wanneer jy aan die einde van volgende jaar wegstap?
G: Ek sal graag onthou wil word as ’n mense mens en vir my deernis en samesyn met almal. Wees klein, maar wees nietig en moet nooit afkyk of neerkyk op iemand se omstandighede wat anders as joune is nie. Ek sal graag onthou wil word as iemand wat ’n verskil in ons skool en leerders gemaak het.
C: Ek dink dit is elke leier se droom dat hy of sy onthou sal word vir al die goeie dade en leierskap. Ek wil aan die einde van volgende jaar onthou word as iemand wat altyd my beste gegee het met alles was ek aangepak het by die skool. Ek sal ook graag wil onthou word as iemand wat werklik omgegee het vir die skool en medeleerders. ’n Leier moet lei met ’n voorbeeld en daar is nie ’n beter voorbeeld as om jou alles te gee en voluit te gaan met alles wat jy doen nie.
• Wat maak Hoërskool Die Anker spesiaal?
G: Daar is vele fasette wat Hoërskool Die Anker spesiaal maak op alle gebiede. Ons is briljant op die sport gebied en ons Christelike waardes in ons skool is op die regte plek. Die verskeidenheid vakkeuses wat deur die skool aangebied word is beslis ’n pluspunt, asook die band wat die skool met die leerders handhaaf. Wat dit so besonder maak is dat ons een groot familie is.
C: Hoërskool Die Anker is ’n fantastiese skool met fantastiese onderwysers wat ’n goeie voorbeeld stel vir die kinders. Alhoewel die onderwysers ’n groot rol speel is dit tog die leerders wat dit uniek maak. Elke kind (op sy unieke manier) vorm die skool soos wat hy is. Die gees in die skool is fantasties en die wenkultuur wat besig is om geskep te word in ons jong skool speel ’n groot rol in hoe die wêreld ons sien.
• Wie is jou rolmodel?
G: Ek het nie ’n spesifieke rolmodel nie, ek kyk net baie op na mense wat ’n sukses van hulle lewe maak, maak nie saak wat hul agtergrond of storie is nie.
C: Ek het nie net een rolmodel nie. Beide my broers is rolmodelle in my lewe. Ek kyk op na beide van hulle en dit vorm die beginsels hoe ek die lewe aanpak. Hulle stel ’n goeie voorbeeld vir my en ek strewe daarna om dieselfde effek op iemand anders te hê, omdat ek weet hoe baie hulle vir my beteken en hoe baie hulle my help met dinge wat ek nie altyd weet hoe om te hanteer nie.
• Beskryf jouself in vyf woorde
G: Uniek, nederig, integriteit, eerlik, kompeterend
C: Hardwerkend, positief, eerlik, goeie kommunikeerder, regverdig
Lees ook: Dié Ankers sal die skool lei
Het jy ‘n storie?
Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za
of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za
of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za
Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:



