BRIEF: Bedelaar wys nutswerkie van die hand
Terwyl sommige jong mense regtig werk soek, is daar ook dié wat net by verkeersligte staan om geld te kry.
André Kemp van Dalview skryf per e-pos:
Met verwysing na die brief gepubliseer in die Herald van 22 Augustus, Jeug op straat wek kommer:
Ek stem 100% saam met die skrywer, aangesien dit deesdae ‘n kommerwekkende en algemene gesig in die dorp is.
Tog kan ek nie help om nie heeltemal simpatiek teenoor die hawelose mense te wees nie. Ek en my vrou het ‘n wyle terug stilgehou by ‘n jong man wat redelik versorg gelyk het.
Hy het by die verkeerslig in Van der Waltstraat gebedel.
Ons het vir hom gesê dat ons hom sou betaal, indien hy bereid sou wees om die veld oorkant ons woning se gras te sny.
LEES OOK: Brakpan weekend crime round-up: Guards bound and robbed
Hy het bloot net gesê hy kan nie, want hy wag vir iemand om hom te kom haal, wat hom binnekort sou kom oplaai.
Maar het nog steeds gevra of ons hom nie kan help met ‘n paar rand nie!
Uit nuuskierigheid het ons drie ure later weer daar verby gery en hy het steeds daar gestaan en bedel.
Ons was bereid om hom te betaal en vir hom kos te gee, maar dit is seker makliker om net bakhand te staan en geld te ontvang.
Ek glo daar is jong mense wat wil werk, maar bloot net nie werk kan kry weens omstandighede en kwalifikasies nie.
Maar ek glo ook dat daar jong mense is wat eenvoudig net te lui is en eerder op straathoeke sal bedel om geld te kry vir drank of ‘n daaglikse “fix”.
LEES OOK: Dalpark inwoner volg passie vir skryf met bekendstelling van sy debuutroman



