Six” van der Vyver se rugby-nalatenskap leef voort in Brakpan
Six van der Vyver was 'n jarelange inwoner van die dorp en sy betrokkendheid by die Brakpan Rugbyklub sal vir altyd onthou word.
Johannes Lodewyk van der Vyver, beter bekend as “Six”, wat op 16 September op die ouderdom van 83 oorlede is, sal onthou word vir die besondere nalatenskap wat hy in die Brakpan-gemeenskap agterlaat.
Vir dekades was Six ’n bekende en gerespekteerde figuur in Brakpan, veral onder rugbyliefhebbers en diegene wat hom deur sy jarelange betrokkenheid by die Brakpan Rugbyklub leer ken het.
Sy heengaan laat ’n leemte in die gemeenskap en in die harte van die talle mense wie se lewens hy deur die jare geraak het.
Six, wat in Johannesburg gebore is, het op driejarige ouderdom saam met sy ouers in Brakpan kom woon, waar hy tot met sy afsterwe gebly het.
Hy het sy skoolloopbaan aan die Laerskool Kommando en Hoërskool Stoffberg voltooi.
Hy het ’n suksesvolle loopbaan as meganiese superintendent gehad en het die afgelope 20 jaar sy aftrede geniet saam met sy eggenote, Bonita (77), met wie hy in 1967 getroud is.
ALSO CHECK: Letter: Muriel Brand School commends Brakpan SAPS and ProSafe Security for swift response
Die egpaar het twee kinders, Six (jnr, 59) en Yolanda van der Vyfer (56), asook ’n aangenome seun, Johny Brummer (54).
Six was, volgens sy seun, Six (jnr), ’n groot liefhebber van sport en veral rugby. Hy was sedert 1954 by die rugbyklub betrokke, waar hy as ’n jong speler vinnig ’n impak gemaak het.
Hy het al Brakpan se spanne verteenwoordig en het ook baie jare op die uitvoerende bestuur van die klub gedien.
Hy is vereer met erelidmaatskap, wat ’n getuigskrif is van sy jarelange toewyding en passie vir die klub.
As talentvolle speler het hy ook Oos-Transvaal met onderskeiding verteenwoordig, waar hy sy man teen die bestes in die Curriebeker gestaan het.
’n Inskrywing op die Brakpan Rugbyklub se Facebook-blad meld dat hy ’n spesiale mens was wat diep spore getrap het en ’n ware legende van die klub is.

Rugbystaaltjies was sy gunstelingtydverdryf, en hy kon die klub se lied en ander liedere met ywer sing, tot almal se genot.
“Mag sy bydrae, vriendskap en al die herinneringe bly voortleef,” lees die inskrywing voorts.
As toegewyde gesinsman het hy tot en met sy afsterwe elke dag sy gestremde dogter, Yolandi, en haar vriend, Johny, gehelp om hulle boereworsstalletjie by Jansens Slaghuis op te rig.
Die boereworsstalletjie is ’n jarelange instelling, en Six het daagliks gesorg dat dit kon realiseer.
Volgens sy seun was sy pa ’n ware familieman wat baie tyd, liefde en ondersteuning aan sy familie gegee het.
Hy laat ook ’n skoondogter, Laurika van der Vyfer (55), asook drie kleinkinders na. Die begrafnisdiens vind Maandag, 28 September, vanuit die NG Kerk Dalview plaas om 13:00.



