
Die kragonderbrekings wat ons die afgelope tyd in Brenthurst, maar ook in die res van die dorp, ervaar het, is absoluut belaglik.
Ek kan nie verstaan dat ‘n dorp vir byna 24 uur sonder krag sit nie. Ek verwys na die onderbreking wat Maandagoggend om 3vm begin het en tot Maandagaand baie laat geduur het. Ook verlede Dinsdag (4 Maart) toe die krag byna die hele dag af was.
Ek verstaan dat die reën sekerlik ‘n rol gespeel het, maar ek glo dat volgehoue instandhouding heeltemal ontbreek.
Ek het ‘n tweeling van ses maande en moes Maandag na my ouers in Kempton Park ry om hulle vir die dag daar te versorg.
Dit is dalk nie die einde van die wêreld om ‘n gasstofie aan te skaf nie, maar waarom moet ek sukkel as ek elke maand stiptelik my munisipale rekenings betaal?
Ons is nie in die posisie om, soos ons bure, ‘n duur kragopwekker te bekostig nie.
Behalwe dat die goed duur is, maak dit regtig ‘n baie irriterende lawaai en dit was nog ‘n rede waarom ek eerder met my twee babas uit die dorp gevlug het.
Ek het Maandagmiddag laat, gewapen met kook water in flesse, teruggekeer na die dorp, met die hoop dat die krag sou aanwees.
Dié luuksheid was my nie beskore nie en ons moes maar in ‘n donker huis sukkel met twee babas.
Wat my bekommerd maak is die feit dat dit nog nie eens winter is nie.
Ek sidder om te dink hoe dit hierdie winter sal gaan as dinge nou al so chaoties is.



