
Ek verwys na die brief in die Herald van 2 Mei (Kinders moet aangemoedig word), wat geskryf is na aanleiding van my brief in die Herald van 25 April (Baie dinge by dié skool pla).
Ek het jou briefie gelees en dit voel of jy vir my wil sê dat ek as ouer nie my kind bystaan nie, en dat ek verantwoordelik moet wees dat my kind sy skoolwerk doen.
Dan sê jy ook dat ek na die raporte en toetse en boeke moet kyk. Dink jy nou dat ek dit nie doen nie en dat my kind nie sy werk doen nie? Wie dink jy is jy?
As jy my brief mooi gelees het, sal jy sien dat ek wel met die onderwysers praat. Wat ek gesê het, is dat sommige onderwysers jou die wêreld belowe en dan gebeur daar niks nie.
Die wonderlike onderwysers kan ook hulle kant bring, want hulle word daarvoor betaal .
Ek is betrokke by my kind en ek werk tot 7nm, dan moet ek my kind rondry vir ekstra klasse, want die onderwysers is te sleg of te besig om te help.
Jy is seker een van daai ouers wat by die huis sit en meer as genoeg tyd het om jou dogter te help, of heeldag by die skool wit voetjie soek. Dis hoekom jy so ‘n trotse ouer is.
Moenie dinge sê waarvan jy niks weet nie.
Ek staan by my saak en ek staan by my kind. As ek nie omgegee of bekommerd was nie sou ek nie die brief in die eerste plek geskryf het nie.
Daar is baie ouers daar buite wat vir hulle kinders sal opstaan soos ek.
Al is jy “die trotse ouer”, ons is ook trots op ons kinders.
Ek sal my hande af baklei dat reg sal geskied en dat die skole wakker skrik, as hulle die kinders nie wil help nie.
Wat soek onderwysers in skole as hulle duidelik die verkeerde beroep gekies het?
En moenie vir my sê dat ek my kind selfvertroue moet leer nie, wie dink jy is jy?
Dis mense soos jy wat se kinders alles in die skool regkry.



