
Elanie Cromhout skryf per e-pos:
Ek het vir twee weke in Brakpan gekuier by ’n persoon, wat ’n kennis is van Morné Reynecke (44), wie se begrafnis verlede Donderdag plaasgevind het.
Ek het Morné self nie geken nie, maar het saam met my vriende na die begrafnis gegaan. Dit was natuurlik baie hartseer, maar dit was ’n begrafnis en diens wat ek altyd sal onthou.
Die ding wat my die meeste opgeval het, was die feit dat leerlinge van beide Morné se kinders se skole by die begrafnis opgedaag het.
Die kinders van die laerskool en die hoërskool was met vakansie, maar hulle het tyd gemaak om hul ondersteuning en meegevoel te kom betoon.
Dit was vir my goed om te sien dat die jongmense van vandag nog omgee vir hul maats en dat die skole die moeite gedoen het om kinders in netjiese skooldrag daar te kry.
Ek is baie seker daarvan dat hulle teenwoordigheid baie vir die naasbestaandes beteken het.
Ek weet nie watter skole dit was nie, maar ek wil net sê julle kinders het ’n baie mooi voorbeeld gestel.
Redakteur se nota: Leerders van Laerskool Die Arend, waar Chanté Reynecke ’n leerder is, en leerders van Hoërskool Stoffberg, waar Mario ’n leerder is, het die begrafnis bygewoon.
Lees ook:
Honderde neem afskeid van polisieman wat deur rowers afgemaai is
Vrou en kinders van polisieman wat dood geskiet is kry kans om hom te groet



