Mense te hulp gesnel toe kar begin brand
Daar was net vlamme toe die enjinkap oopgemaak is.
Inwoner skryf per e-pos:
Ek rig hierdie skrywe uit dankbaarheid aan die awesome en hulpvaardige mense in ons gemeenskap.
Ek en my ouers het Saterdag in my motor gery om ons pos in Dalpark te gaan afhaal.
Daar was nie fout met my voertuig gewees nie. Toe ek egter by ’n verkeerslig wou wegtrek, het die voertuig krag verloor en wit rook het by die uitlaatpyp uitgekom.
Ek het besef dat daar ’n probleem is en het besluit om van die pad af te trek.
Ek het in Lowerweg, Sonneveld, afgetrek en die motor afgeskakel.
My pa het die enjinkap oopgemaak en toe was daar net vlamme.
Hy het vir my en my ma gesê om al ons besittings te neem en uit die kar te klim. Ons was lam van die skrik.
Binne ’n oogwink het daar seker sewe voertuie stilgehou. Onder andere was daar ’n vrou wat die verkeer gereguleer het.
Daar was nog ’n man en vrou wat dadelik hulle selfoon tot my beskikking gestel het sodat ek die voorval aan my versekeringsmaatskappy kon rapporteer.
Hulle het ook toegelaat dat ek my kinders en broer kon bel om ons te help.
Die vrou het my ma vertroos en haar baadjie om my ma se skouers gegooi terwyl sy haar vasgehou het.
Haar man het deurentyd raad gegee.
Baie dankie vir elke persoon wat gestop het, uitgeklim het en ons gehelp het, asook die insleepdiens.
(Brief verkort).
Lees ook: Oud-stadstesourier oorlede
Volg ons:



