Grootvlei boer en vrou op plaas aangeval
'n 77-Jarige boer van Grootvlei, Mpumalanga is in die hoësorgeenheid van Netcare Uniehospitaal in Alberton nadat hy Sondagmiddag drie keer in die agterkop en nek geskiet is deur aanvallers wat sy 9mm handwapen by hom afgeneem het. Sy vrou is glo gebyt en met ‘n skroewedraaier gesteek tydens die aanval.
George Brits (77) en sy vrou Hannatjie Britz (43) het Sondagmiddag omstreeks 17:00 onder die aanvallers deurgeloop op hul plaas Leeuwfontein (naby die R45 tussen Vereeniging en Villiers).
Volgens A/O André van der Lith, ‘n polisiewoordvoerder, het Brits en sy vrou met ‘n bakkie gery om na skape te gaan omsien toe hulle gestop het om ‘n plaashek toe te maak.
Dit is glo hier waar twee mans (vermoedelik in hul twintigs/vroeë dertigs) die egpaar ingewag en oorval het.
Volgens Van der Lith het een van die mans die egpaar met skroewedraaier gedreig.
“Hannatjie Brits is gesteek toe sy die wapen by die man probeer afneem het. Sy is ook tydens die struweling gebyt.
“Die ander man het tydens die warboel Brits se 9mm pistool en karsleutels gegryp en op geld aangedring,” sê Van der Lith.
Daar word beweer dat die mans toe geld geës het. Aangesien Brits nie kontant aan hom gehad nie, het die aanvallers hom glo gedwing om na sy plaashuis te ry.
Volgens Van der Lith het die mans agter op die bakkie gespring en die vuurwapen op George Btits gerig gehou.
Daar word beweer dat Brits vermoedelik probeer jaag het om hulp te gaan soek.
Een van die aanvallers het glo van agter af op Brits losgebrand toe hy verby die afdraai na die plaashuis gery het.
Van der Lith sê drie skote is afgevuur.
Die voertuig het spoed verminder waarna die verdagtes glo van die bakie af gespring en op die vlug geslaan met Brits se pistool.
Volgens van der Lith is niemand nog in hegtenis geneem nie. Een van die verdagtes is vermoedelik in sy laat twintigs en die ander een vermoedelik in sy vroeë dertigs is.
‘n Famielid van Brits sê die boer is tweekeer in sy lugweg en op sy kaak geskiet. Hy is tans in die hoësorgeenheid van Netcare Uniehosptiaal in Alberton.
Sy word glo ook daar behandel vir beserings wat sy tydens die aanval opgedoen het.



