CrimeNewsUpdate

Boer hou aan ry nadat rowers hom skiet

'n 77-Jarige boer van Grootvlei het vir agt kilometer met sy bakkie tot by sy buurman se huis aanhou ry nadat rowers hom Sondagmiddag in die skouer, deur die nek en in die kakebeen geskiet het.

George Brits word in die hoësorgeenheid van Netcare Unie Hospitaal in Alberton behandel nadat hy op 17 Augustus in sy skouer, deur sy nek, sowel as in die kakebeen geskiet is deur aanvallers wat sy 9mm handwapen by hom afgeneem het.
Hy is tans onder verdowing. Volgens sy dogter Jacqueline du Plessis, wag dokters vir swelling om te sak voor hulle kan opereer.
Sy vrou Hannatjie (73), ‘n diabeet, is tydens die aanval met ‘n skroewedraaier in die linkerhand gesteek nadat een van die aanvallers haar in die bors wou steek en sy die skroewedraaier gegryp het.
Dit is toe dat een van die rowers haar regtermiddelvinger, ringvinger en pinkie gebyt het. Sy is, soos haar man, ook hardhandig rondgepluk, geskop en geslaan.
Hannatjie word ook in Netcare Unie Hospitaal behandel vir beserings wat sy tydens die aanval opgedoen het. Volgens Du Plessis het die skok haar bloedsuikervlakke laat daal. Sy vier Maandag haar 74ste verjaardag.
Brits en Hannatjie het omstreeks 16:00 onder die aanvallers deurgeloop op hul plaas Leeuwfontein (naby die R45 tussen Vereeniging en Villiers).
Volgens Du Plessis het hulle vroeër die middag by hul bure Thys en Louise Diedericks gekuier toe ‘n storm opgesteek het. “My ma het voorgestel dat hulle huistoe gaan aangesien hulle veevoer agter op die bakkie gehad het. Hulle is toe daar weg,” sê sy.
Op die plaas aangekom, het hulle die skape versorg en ‘n draai by die beeste gemaak.
Volgens polisiewoordvoerder A/O André van der Lith, het twee mans (vermoedelik in hul twintigs/vroeë dertigs) die egpaar by ‘n plaashek ingewag.
Dit is hier waar die mans op hulle afgestorm het. Volgens Du Plessis het hulle eers haar ma uit die motor probeer pluk en geskree dat hulle geld soek. Sy is tydens die worstelling met die skroewdraaier aangeval en gebyt.
Die mans het ook vir George hardhandig rondgepluk, geskop en geslaan, waarna hulle sy karsleutels en vuurwapen gegryp het.
Intussen het werkers van ‘n naburige plaas met ‘n voertuig op die toneel stilgehou. Volgens Du Plessis het een van die rowers hulle glo verjaag met Brits se vuurwapen.
Sy sê haar pa het daarna een van die mans oorreed om die sleutels aan hom te oorhandig. Aangesien hy nie kontant aan hom gehad het nie, het hy aangebied om na die plaashuis te ry om geld te gaan haal.
Een van die mans het agter op die egpaar se bakkie gespring en die vuurwapen op George gerig gehou.
George het vermoedelik toe probeer jaag om hulp te gaan soek.
Een van die aanvallers het blykbaar van agter af op George losgebrand toe hy verby die afdraai na die plaashuis gery het.
Van der Lith sê daar is vermoedelik drie skote afgevuur. Een van die skote het hom in die skouer getref en is deur sy nek, terwyl die ander hom op die kakebeen getref het.
Die voertuig het spoed verminder waarna die verdagte van die bakkie gespring en albei verdagtes op die vlug geslaan het met George se pistool.
George, swaar gewond, het toe ongeveer 8km na die bure se plaas gery waar noodhulp verleen is. Du Plessis is vol lof vir paramedici van Grootvlei wat baie vinnig op die toneel was.
Volgens Van der Lith is niemand in hegtenis geneem nie. Dirk Hertzog, die egpaar se seun, sê een van die koeëls is deur sy pa se lugweg, tewyl die ander koeël sy kakebeen gebreek het. Hy is steeds in die hoësorgeenheid.
Hertzog, Du Plessis, hul gades, Paul du Plessis en Elsabé du Plessis, en kleinkinders het gesê hulle wens die egpaar ‘n spoedige herstel toe.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button