
Joel Dietrechsen (59) het in die ambulans oppad hospitaal toe gesterf ná kapers hom koelbloedig in die rug geskiet het. Joel is op 29 November om 19:30 by die oprit van sy huis in Grahamlaan geskiet. ‘n Egpaar wat by die Dietrechsens gekuier het is deur die kapers aangeval toe hulle uit die oprit gery het. Joel het die vrou hoor skreeu en hulle te hulp gesnel waarna hy geskiet is. Die kapers het met die gaste se Ford Ranger en juwele wat hulle van die vrou afgeruk het, gevlug. Elzona Meyer was eerste op die toneel en sy en ander lede van Heidelberg Medic Volunteers het gespook om Joel aan die lewe te hou. Netcare se helikopter is na Laer Volkskool ontbied vanwaar Joel na die Netcare Unie Hospitaal in Alberton vervoer sou word. Hy het egter in die ambulans gesterf voordat hy in die helikopter gelaai kon word.



