CrimeNewsUpdate

Gospelsanger se voertuig afgeskryf toe dit afgesaagde lamppaal in pad tref

Die Afrikaanse gospelsanger Rudi Muller en sy vrou Lize het die dood net-net vrygespring nadat hul voertuig op 5 Maart afgeskryf is.

Die Afrikaanse gospelsanger Rudi Muller en sy vrou Lize het die dood net-net vrygespring nadat hul voertuig op 5 Maart afgeskryf is.
Hulle was omstreeks 22:30 oppad huis toe in hul Nissan NP200 toe hulle op die onverligte Nigel/Springs-pad ‘n afgesaagde lamppaal getref het. ‘n Groep rowers het glo die 30?meter lange paal afgesaag en dit het in die pad beland.
Rudi het skaars tyd gehad om remme aan te slaan. “Die impak het die paal bo-oor die voertuig gestuur en die dak het tot teen ons koppe ingeduik. Dit het gevoel of ons teen ‘n muur te staan gekom het”, het Rudi gesê.
“As die straatligte op die pad gewerk het, kon ‘n mens dalk die paal in die pad gesien en ‘n ongeluk vermy het”.
Volgens Lize (wat werksaam is by vervaardigers van sulke pale) is die gewig van so ‘n paal ongeveer 2 ton.
Volgens hom is dit ‘n wonderwerk dat hulle niks oorgekom het nie.
“Dit is die tweede ongeluk waarin ons betrokke is wat misdaad verwant is. In albei gevalle kon ons God se hand van beskerming oor ons sien. Die eerste geval was toe ‘n rots deur ons windskerm gegooi is met die doel om ons te beroof, waarna ons gelukkig na veiligheid kon ontsnap”, het hy gesê.
“Ons is net geleen op hierdie aarde en ek het weer besef hoe belangrik dit is om jou saak met die Here reg te hê”, het hy afgesluit.
Volgens A/O Madeleine von Wielligh (SAPD Nigel woordvoerder) is die pad ‘n gevaarsone aangesien die ligte nie in werking is nie.
“Ons het al ‘n paar ernstige gevalle op die Nigel/Springs-pad gehad as gevolg van ‘n tekort aan beligting”, het sy gesê.
Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit (EMM) se woordvoerder, Themba Gadebe het gesê die projek om die pale te vervang en ligte te herstel op die pad is in die proses om voltooi te word. “Ons is bewus van die lamppale wat op die Springs/Nigel-pad afgesny word en dis waarom ons die pale stelselmatig met beton pale vervang. Die projek het in Junie 2012 in Springs begin en ons beoog om aan die einde van 2015 die projek te voltooi”, het Gadebe gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button