Rooftogte is aan die toeneem met gewapende rowers wat op niksvermoedende huisbewoners toeslaan. ‘n Gesin is Dinsdagaand oorval terwyl hulle TV by hul huis in Shalimar Ridge gekyk het. Vier gewapende mans het die huis bestorm en kontant, selfone, skootrekenaars en ‘n Playstation geroof. Hulle het ook die gesin se motorsleutels gevat.
Nog ‘n gesin is fister om 05:30 by hul huis in Vosstraat, Rensburg oorval toe die vrou van die gimnasium teruggekeer het. Vier rowers in ‘n Audi A3 het haar by die oprit ingevolg en vuurwapens op haar en haar man gerig. Hulle is die huis ingedwing waar die man beveel is om op die vloer te gaan lê. Hy is vasgebind en die rowers het die vrou gedwing om juwele en ander waardevolle items aan hulle uit te wys.
Hulle het ook ‘n TV, kamera, handsak, skootrekenaar en rekenaarskerm geroof.
Adjudant Offisier Vollie van Vollenhoven maan inwoners om te alle tye bedag op vreemde voertuie te wees. Verdagte persone en voertuie kan by sektor patrollievoertuie aangemeld word. Sektor 1 (071 675 7396); Sektor 2 (071 675 7295) en Sektor 3 (071 675 7296).



