CrimeNews

Verdagte in plaasmoord sterf tydens struweling met wag

NIGEL - Kort nadat die plaaslike plaasbeveiligingsgemeenskap die moordtoneel van ‘n plaasaanval skoongemaak het, is ‘n moontlike verdagte noodlottig gewond.

 
HERAUT het op 2 Desember berig hoe Irene Vermaak op 24 November in haar plaashuis oorval en haar keel met ‘n mes oopgesny is. Haar liggaam is later deur ‘n buurman gevind wat onraad vermoed het toe Irene nie soos gebruiklik op die plaaslike radiostelsel ingeskakel het nie.

Lede van die plaasbeveiligingsnetwerk het die huis kort na middernag die volgende dag opgeruim, nadat polisie die toneel vir leidrade gefynkam het. ‘n Plaaslike landboubewaarder is na die huis gestuur om dit op te pas en volgens berigte het hy na sowat ‘n uur twee verdagtes naby die huis opgemerk. Hy het glo die beheerkamer in kennis gestel waarop hy toe deur die mans oorval is.

Dit is nie duidelik wat presies gebeur het nie, maar volgens polisiewoordvoerder A/O Tommy Tomlinson, het dit op ‘n struweling tussen die mans uitgeloop. Een verdagte het gevlug, ‘n ander het gesterf en die bewaarder het verskeie meswonde opgedoen. Hy het mediese behandeling ontvang, maar is later deur SAPD Devon in hegtenis geneem vir die moord van die verdagte.

Volgens A/O Tomlinson is die inhegtenisname normale prosedure na ‘n moord en sal die bewaarder binnekort in Nigel Landdroshof verskyn, waar die hof sal bepaal of dit ‘n saak van moord, strafbare manslag of selfverdediging is.

Intussen word alle moontlikhede ondersoek of die oorledene met die moord op Irene verbind word. Niemand is nog in verband met haar moord in hegtenis geneem nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button