
Meer vrae as antwoorde het ontstaan nadat ‘n 67-jarige vrou Dinsdag om 11:00 met ‘n koëlwond in haar regterbobeen by haar huis in Verdoornstraat, Rensburg deur paramedici behandel is. Sy is glo deur haar heining geskiet terwyl sy in haar tuin besig was om haar ganse te voer.
HERAUT het betroubaar verneem dat bure tydens die voorval geen onbekende mans in die straat gewaar het nie. Hulle het ook nie ‘n skoot gehoor nie, hoewel hulle ook buite in hul tuine werksaam was. Geen bloed kon buite (waar die vrou glo tydens die voorval gestaan het) gesien word nie.
Volgens die vrou se lewensmaat het drie mans verby die huis geloop en sonder om ‘n woord te rep, haar in die been geskiet. Die koël is by die regterbobeen uit en by haar linkerbobeen in, waar dit vasgeslaan het.
Die provinsiale ambulans is ontbied. Lesedi Brand- en Nooddienste het die polisie van die voorval in kennis gestel.
Die vrou is in haar slaapkamer op die bed deur paramedici aangetref.
Heidelberg polisie gee die versekering dat dié nie ‘n rasgedrewe voorval was nie.
Die polisie ondersoek die voorval en vra dat enigiemand met inligting Heidelberg Speurtak by 016 341 2575 skakel.




