Die hand wat jou voer
Elke politieke vergadering van elke politieke party, elke parlementsitting waar daar goeie en slegte besluite en wette gemaak word en waar tafelsvol keurige eetgoed verorber word, word met kos voorsien wat van boerderye afkomstig is.

Onrusbarend, afgryslik en ontstellend.
Dit is die gevoel wat mens kry wanneer jy hoor hoeveel boere verlede jaar aangeval en vermoor is.
Dit gaan my verstand te bowe en ek sukkel werklik om dit te verstaan.
Hoe kan enige regdenkende mens die hand wat hom voed, wil doodmaak? As die aanvallers net wil gaan stilstaan en werklik besin by die borde wat langs die toegangsroetes van ons dorp en talle ander in die land aangebring is.
Daar staan duidelik geskryf in ’n taal wat almal kwansuis kan verstaan: “Eaten today? Thank the farmer and the workers.”
Daar word uit verskillende oorde menings gelug en bespiegel oor die motiewe of redes vir die aanvalle en moorde, maar na regte moet daar geen rede wees nie. Of die “redes” nou polities-gedrewe of bloot net krimineel is, maak na my mening glad nie saak of sin nie.
Die punt is: dié aanvalle en moorde (soos enige moord) moet net nie gebeur nie. Die siening dat die woord “boer” aan ’n sekere taalgroep of ras gekoppel word, is ook na my mening loutere snert. Boere, oftewel voedselprodusente, is net dit: voedselprodusente van enige ras, taal en kultuur.
Dit vat nie ’n Einstein om te weet dat niks of niemand sonder kos kan bly lewe nie. Die kos wat die volk van enige land in die wêreld eet, kom van boere se landerye af en verskyn nie uit die niet,”like magic” op winkelrakke nie.
Van die hoogste posisie in die land tot die eenvoudigste mens op straat moet kos of voeding kry om te bly leef.
Elke politieke vergadering van elke politieke party, elke parlementsitting waar daar goeie en slegte besluite en wette gemaak word en waar tafelsvol keurige eetgoed verorber word, word met kos voorsien wat van boerderye afkomstig is.
Die getal voedselproduserende boere het in die laaste tyd landwyd drasties afgeneem omdat boere vanweë veiligheidsredes en ander ekonomiese faktore nie meer kans sien om te boer nie.
Talle plase word nie meer soos voorheen aan die volgende geslag oorgedra nie en op talle voorheen vooruitstrewende boerderye wat weens politieke speletjies onteien is, gaan daar absoluut niks meer aan nie.
Dit alles kon ’n uiters donker prentjie vir ons land geskep het. Maar danksy dié voedselprodusente wat ten spyte van alles bereid is om aan te gaan en ons land te voed, is die prentjie egter nie so somber nie.
Elke mond in die land is elkeen van dié voeders van die nasie groot dank en waardering verskuldig.
“Eaten today?”
“Yes, thank you.”
“Thank you – who?”
“Thank you, siyabonga, Mr and Ms Farmer and all the workers.”



