Me. Elsie Webb is die voorsitter van die Vroue Landbou Unie (VLU) se Adoré-tak vir die afgelope ses jaar.
Sy het in 2011 die leisels by me. Elsie Lombaard oorgeneem nadat dié skielik oorlede is.
“Ek het groot skoene gehad om vol te staan, die VLU was haar lewe.”
Sy en haar man, mnr. Tom Webb, is oorspronklik van Nelspruit, waarna hulle na Richardbaai verplaas is en vir 10 jaar dit hulle huis genoem het.
Hulle het in Desember 1987 na Ermelo verhuis en sien hulself as volwaardige Ermeloërs.
Sy was vir 23 jaar ’n dagma, nadat sy ’n vrou in haar kerk se kinders oorgeneem het.
“Ek was nog altyd baie lief vir kinders en het die geleentheid met albei hande aangegryp.”
Nadat haar man vir haar gesê het dat sy net kindertaal praat, het sy deur haar buurman se ma by die VLU betrokke geraak.
Sy het besef dat sy dadelik by die unie moet aansluit voor sy kop uittrek. Sy het vinnig geleer van die konferensies en kongresse wat deur die VLU aangebied word en die verskillende artikels, soos hulle daarna verwys, wat elke lid maak.
Haar eerste artikel wat sy by die VLU gemaak het, was ’n Boston brood en sy onthou dit nog soos gister.
“Dit was die eerste en laaste keer dat ek dit gebak het. Ek het nog nie weer kans gesien om dit te bak nie”
Volgens me. Webb is dit presies wat die VLU vir haar so besonders maak. Dit daag ’n vrou uit om iets te maak en te probeer wat hulle nie sommer sal aanpak nie.
Sy beskryf die vriendskappe en brûe wat opgebou word tussen die VLU-vriendinne as ware vriendskappe wat jou deur dik en dun dra.
Vir haar is die uitdaging as VLU tak-voorsitter die verantwoordelikheid om ten alle tye haar groep ingelig te hou oor al die verwikkelinge van die unie.
“Wat ek glad nie van hou nie, is brei. Ek is glad nie ’n brei-tannie nie”
’n Projek wat vir haar baie meer betekenis gehad het as wat sy verwag het, is die trooskombers-projek.
Die vroue het komberse gebrei of gehekel wat hulle aan iemand gegee het wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het, om vas te hou wanneer die verlange te erg geraak het.
Sy vertel dat sy vroeg verlede jaar met groot angstigheid weggespring het met haar kombers, om ook by te dra tot die projek.
Soos haar kombers gevorder het, het van haar blokke nie uitgewerk nie, sommiges was te groot en ander te klein. Sy het egter nooit opgegee met haar kombers nie en pligsgetrou aan daaraan gewerk.
Hoe verder sy met haar kombers gevorder het, het sy besef dat haar kombers haar gevoelens en storie vertel van wat sy gevoel en beleef het tydens die maak van die kombers.
“Die voorkant van my kombers was mooi, maar aan die agterkant het ek op plekke sommer die wol geknoop.
“Ek het dit gesien as die tye waar jy in jou lewe voel jy wil die drade net knoop om te verhoed dat jou omstandighede uitrafel en als net lostrek.”
Sy het haar kombers vir haar oorlede broer se oudste dogter wat met kanker gediagnoseer is, gegee.
Saam met die kombers het sy die kombers se storie ook vir haar vertel dat die voorkant wat mooi is, mense voorstel wat wil hê sy moet sê dat dit goed gaan en die kanker onder beheer is, maar dat die agterkant wat vol knope is haar moed gee en wys dat dit soms nodig is om nie als onder beheer te hê nie.
Haar kombers is later na die vrou se dood vir haar dogter en man agtergelaat.
Hoewel sy aan al die verskillende afdelings wat VLU aanbied deelneem, het sy ’n groot liefde vir bak en geniet die fyner kuns om koeke te versier.
“Ek het nooit verjaarsdaggeskenke gekoop nie, ek het altyd vir die kinders ‘n verjaarsdag koek gebak.”
Sy nooi elke vrou in Ermelo uit om deel te raak van die VLU-familie. Belangstellendes kan haar skakel by 083 305 9507.



