GeneralMunicipalNews

Stortingsterrein op Ermelo weér in ’n haglike toestand

Oral in die pad lê gebreekte bakstene en kort na die afdraai vanaf die hoofpad is rommel weerskante van die pad en in die veld rondom die omheinde gebied gestrooi.

Die vervalle toestand van Ermelo se stortingsterrein aan die noordekant van die dorp, is vir die soveelste keer weer onder die Hoëvelder se aandag gebring.

Ontstoke inwoners het die Hoëvelder genader oor dié saak wat vir baie ’n groot probleem is en sommige inwoners is van mening dat die toestand bydra tot die menige onwettige stortingsterreine wat oral in en om Ermelo opduik.

Volgens een van die inwoners wat dié terrein onlangs besoek het, word die ingang na die terrein geblokkeer omdat die vullis sommer in die ingang afgegooi word.

Die Hoëvelder het ondersoek ingestel en het gou besef dat inwoners met kleiner voertuie twee keer sal moet dink om die pad wat na die stortingsterrein lei, aan te pak.

Oral in die pad lê gebreekte bakstene en kort na die afdraai vanaf die hoofpad, is rommel weerskante van die pad en in die veld rondom die omheinde gebied gestrooi.

’n Haglike stank van rommel wat brand, hang in die lug.

Die ingang van die stortingsterrein is toe onder die rommel wat in die pad wat daarheen lei, afgegooi word.

Die enigste vorm van aktiwiteit by die terrein, is inwoners wat deur die rommel sif op soek na enige herwinningbare items.

Van die mense wat by die stortingsterrein aas, bestorm jou voertuig nog voordat jy kan stilhou om te sien wat daar in jou vuilgoedsakke is,” het ’n inwoner wat verkies om anoniem te bly, gesê.

Daar is aan die Hoëvelder vertel hoe van die mense in die ry agter op die voertuie spring en die vullis begin afgooi en die vraag ontstaan wie verantwoordelik gaan wees indien een van die inwoners wat so op die voertuie spring, beseer word.

“Weens rommelstrooi en die feit dat die meerderheid stortingsterreine in ons land nie op standaard is nie, versprei die vullis wat daar beland op die ou einde tot in ons rivierstelsels, wat op sy beurt weer afgevoer word tot in die oseane.

“By verre is die meeste van die rommel wat op stortingsterrein opeindig, herwinbare produkte,” het ’n ander inwoner gesê.

Die inwoner is van mening dat elke persoon ’n verskil kan maak in die toestand van die stortingsterrein deur weekliks alle rommel te herwin.

“Dis ons Godgegewe opdrag om Sy skepping te bewaar,” het sy bygevoeg.

Tydens ’n onderhoud wat vroeër vanjaar met me. Penny Coetzee van Penny’s Recycling gedoen is, het sy genoem dat 80 persent van huishoudelike vullis herwinbaar is en verwerk kan word tot bruikbare items.

Sy het ook genoem dat die negatiewe impak wat besoedeling onder meer veroorsaak, is aardverwarming, uitsterf van seldsame diersoorte, onbruikbaarheid van waterbronne en grond, verspreiding van siektes en plaaslike stortingsterreine wat oorvol is.

Items wat herwin kan word, sluit in alle plastiekhouers, koeldrank- en kosblikkies, kartonbokse, tydskrifte, koerante en kantoorpapier.

“As elke inwoner in Ermelo hulle deel bydra deur hul huishoudelike rommel te herwin, sal daar ’n duidelike verskil wees in die toestand van nie net die stortingsterrein nie, maar ook in ons dorp.” het ’n inwoner gesê.

Die Hoëvelder het navrae by die Msukaligwa Municipaliteit gedoen, maar teen druktyd was die vrae steeds onbeantwoord.

Die ingang van die stortingsterrein is toe onder die rommel wat in die pad wat daarheen lei, afgegooi word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button