Heraldstraat in Ermelo ná drie weke se wag opgeruim
Sakelui se kommer oor ’n terrein in die Piet Rautenbach-nywerheidsgebied het ná herhaalde aanmeldings uiteindelik aandag gekry.
ERMELO – Munisipale werkers het op 7 Oktober na ’n terrein in Heraldstraat teruggekeer nadat materiaal glo sowat drie weke lank daar agtergelaat is.
Die aanvanklike werk is op 14 September by Heraldstraat in die Piet Rautenbach-nywerheidsgebied uitgevoer, waar ’n kragkabel herstel of vervang is.
Volgens die Vryheidsfront Plus se PR-raadslid, Shobie Arnoldi, is materiaal ná die werk agtergelaat sonder dat die terrein opgeruim of met sperlint afgebaken is.
Sakelui in die omgewing het volgens Arnoldi die toestand aangemeld, maar daar is aanvanklik nie opgetree nie.
Die aangeleentheid is daarna drie keer by die munisipale inbelsentrum aangemeld en ook onder die aandag van die MMC vir Tegniese Dienste gebring.
Kommer het veral oor die veiligheid van die terrein en die moontlike uitwerking op nabygeleë ondernemings bestaan.
Op 7 Oktober het Nicolette Jonker van een van die ondernemings Hoëvelder ingelig dat munisipale werkers teruggekeer het om die probleem op te los.
Hoewel die terrein uiteindelik aandag gekry het, bly vrae oor die vertraging en die munisipaliteit se reaksie op die aanmeldings.
Lees meer oor die pogings om vas te stel wie vir die aanvanklike werk verantwoordelik was, en waarom die kwessie ook tydens ’n raadsvergadering geopper sou word, in Hoëvelder se gedrukte uitgawe.



