Omar Sakr-moordsaak: Drie verskyn in hof, twee vrygelaat
Die verdagtes het hulle vir hul selfone en persoonlike besittings deursoek en ook geld uit die kasregister geneem.
ERMELO – Reflioe Sarah Sakr (31), die vrou van die vermoorde 34-jarige sakeman, Omar Sakr, en twee mans, Phetolo Gopa Monareng (25) en Bafana Bantwini Sehlabelo (23), wat in verband met Omar se moord op 20 November in hegtenis geneem is, het op 2 Desember in die Ermelo Landdroshof verskyn.
Aanvanklike ondersoeke op 24 November het oorspronklik tot die inhegtenisname van vier verdagtes (vier mans) op Hazyview gelei, maar twee is egter later vrygelaat, aangesien hulle nie positief met die moord en roof verbind kon word nie.
Sakr, Monareng en Sehlabelo staan op ‘n aanklag van moord en vier aanklagtes van roof met verswarende omstandighede tereg.
LEES OOK: One person shot and killed during Ermelo business robbery
Sakr het aanvanklik op 28 November in die hof verskyn, waar sy aanvanklik om borg sou aansoek gedoen het.
Kapt. Carla Prinsloo, woordvoerder vir die Ermelo-polisie, het gesê dat Sakr dit egter nie gedoen het nie, omdat daar nog aanklagtes teen haar gebring is.
Vier mans het na bewering omstreeks 15:00 op 20 November HDS Ermelo Cut & Edge binnegestorm.
Volgens Prinsloo het die verdagtes ‘n wapen op die personeel en klante gerig en hulle beveel om op die vloer te gaan lê.
LEES OOK: Woman and 4 men arrested in connection with murder of Ermelo business owner
Die verdagtes het hulle vir hul selfone en persoonlike besittings deursoek en ook geld uit die kasregister geneem.
Hulle het gevra waar die eienaar was en het na ‘n stoorruimte aan die agterkant van die onderneming beweeg.
Die personeel het ‘n geweerskoot gehoor afgaan en kort daarna het die verdagtes te voet gevlug.
Sakr is met ‘n skietwond in die stoor gevind, waarna ‘n paramedikus van ER24 hom dood verklaar het.
Die polisie het onmiddellik met die ondersoek begin.
Die oorledene se vrou is ondervra en is op 21 November gearresteer.
Die uitkoms van die hofverskyning op 2 Desember was teen die ter perse gaan nog nie bekend nie.