Windbuksgebruik in woonbuurte kan strafbaar wees, waarsku Ermelo-GPF
Die gebruik van ’n windbuks sonder ’n geldige rede in ’n beboude gebied kan ’n misdryf wees, volgens die Ermelo GPF.
ERMELO – Ná Hoëvelder se onlangse berig oor ’n inwoner se kommer rakende die beweerde skiet van voëls met ’n windbuks in ’n woonbuurt, het die Ermelo Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) verdere duidelikheid gegee oor die wetlike regulering van luggewere.
’n Inwoner van die dorp, in die omgewing van Jansen- en Borderstraat, het haar bekommernis uitgespreek oor ’n persoon wat glo gereeld voëls met ’n windbuks in die woonbuurt skiet.
Volgens die ontstelde vrou hou die voorvalle nie net ’n bedreiging vir plaaslike voëllewe in nie, maar wek dit ook ernstige kommer oor die veiligheid van kinders in die gebied.

Volgens die GPF se voorsitter, Jaco Kirk, bepaal artikel 120(7) van die Wet op Beheer van Vuurwapens dat dit ’n misdryf is om ’n luggeweer in ’n beboude of munisipale gebied af te vuur sonder ’n geldige rede.
Hy verduidelik dat woonbuurte, dorpsentrums en ander bevolkte gebiede as beboude gebiede beskou word, en dat informele teikenskiet of die skiet van diere nie as geldige redes kwalifiseer nie.
Kirk waarsku verder dat selfs al vereis ’n windbuks nie ’n lisensie nie, nalatige of roekelose gebruik steeds strafbaar is en mense of eiendom in gevaar kan stel.
Meer besonderhede, volledige verduideliking en munisipale regulasies is beskikbaar in die gedrukte uitgawe van Hoëvelder.



