Boere waarsku: Swak paaie kan werkskepping kelder
Havenga- en Chris de Villiersstraat se toestand lei tot frustrasie, alternatiewe roetes en verhoogde infrastruktuurskade.
Havenga- en Chris de Villiersstraat in Ermelo is volgens plaaslike rolspelers in ’n ernstige toestand van verval, wat toenemende frustrasie onder vragmotorbestuurders, boere en sake-eienaars veroorsaak.
Vragmotoroperateurs sê hulle verkies eerder om boetes te betaal as om die beskadigde roetes te gebruik, aangesien die skade aan swaarvoertuie en vragte aansienlike kostes meebring en soms meer as die boetes is.
’n Plaaslike boer het gister aan Hoëvelder gesê dat produsente van bederfbare produkte ook swaar getref word, met vragte vrugte wat tydens vervoer beskadig word en tot verliese lei.

Hy het ook gewaarsku dat volgehoue verliese tesame met die huidige ekonomiese klimaat werksgeleenthede in die sektor kan bedreig.
Die swak paaie het ook in 2025 tot protesaksies gelei, toe inwoners Havengastraat tydelik afgesper en swaar voertuie na Kerkstraat herlei het wat die dorp tydelik tot stilstand gebring het.
Ten spyte van vorige herstelpogings deur private rolspelers in 2021, het die infrastruktuur weer verswak weens gebrek aan volhoubare instandhouding.

Die Msukaligwa Plaaslike Owerheid het op vorige navrae van die Hoëvelder bevestig dat die pad onder hul jurisdiksie val, maar dat herstelwerk groot opgraderings en eksterne befondsing sal vereis.
Tot dusver is geen sigbare vordering gerapporteer nie, ondanks versoeke aan nasionale en provinsiale rolspelers.
Lees meer oor munisipale verklarings, vorige protesaksies en nasionale ingrypingspogings in die Hoëvelder se gedrukte uitgawe.



