Municipal

Wateronderbrekings tref verskeie dele van Ermelo hard

Watertenkers is ontplooi, maar inwoners sê die voortdurende onsekerheid oor watertoevoer is onaanvaarbaar.

ERMELO – Inwoners van verskeie woonbuurte op die dorp moes die afgelope sowat drie dae bontstaan sonder betroubare watervoorsiening nadat ’n kragtoevoerprobleem klaarblyklik die rouwater-abstraksiestelsel by Jericho geraak het.

Die voortdurende onderbrekings laat talle inwoners moedeloos en gefrustreerd, veral omdat daar steeds geen duidelike aanduiding is oor wanneer die probleem opgelos sal wees nie.

Volgens die munisipale kennisgewing ondervind die DWS se Usutu River Government Water Scheme probleme met pompe by Jerichodam, wat daartoe gelei het dat die toevoer van rou water na die munisipaliteit afgeskakel is totdat die fout herstel is.

Die Suidelike waterbehandelingswerke, wat van Jerichodam afhanklik is vir rou water, word na wat verneem word direk deur die probleem geraak.

Gebiede wat reeds deur die wateronderbrekings geraak word, sluit onder meer Nederland Park, De Bruinpark, John Vorsterpark, George Bothapark, Cassimpark, New Ermelo, Autumn Ridge/Nomndeni en Ermelo-uitbreidings 5, 18, 32, 33, 34 en 39 in.

In die mees onlangse opdatering het die plaaslike owerheid bevestig dat die DWS steeds besig is om die kragtoevoerfout by die abstraksiestelsel te herstel.

Intussen waarsku die munisipaliteit dat die waternetwerk probeer “balanseer”, wat daartoe lei dat water vanaf ander behandelingswerke herlei word. Dit kan veroorsaak dat nog gebiede lae druk of onderbroke toevoer ervaar.

Bykomende gebiede wat moontlik geraak word, sluit Ermelo-Oos, Khayelisha, Everest, Wesselton-uitbreidings 1 en 2, asook dele van Ermelo in.

Hoewel watertenkers na sekere woonbuurte ontplooi is, meen inwoners dat dit onvoldoende is en bied die kennisgewings geen tyd aan wanneer water afgelewer word nie.

“Hierdie is totaal onaanvaarbaar. Dis onmenslikheid op die hoogste graad. Wat nou hier aangaan is skandelik, en soos gewoonlik is die owerheid min gepla hieroor,” het een inwoner op ’n gemeenskaps-WhatsAppgroep gesê.

Nog ’n inwoner het gesê die situasie plaas geweldige druk op kwesbare inwoners:

“Ek kon nie voorsorg maak vir ekstra water in my woonstel nie. Ek kan nie eers behoorlik loop nie, hoe de hel moet ek water by ’n tanker kry – my senuwees is klaar,” het die inwoner gesê.

Vir talle inwoners is die grootste bron van frustrasie die gebrek aan ’n konkrete tydlyn vir herstel.

Die plaaslike owerheid het tot dusver slegs aangedui dat onderbrekings sal voortduur totdat die probleem opgelos is, sonder om aan te dui of inwoners nog ure, dae of selfs langer sonder ’n stabiele toevoer sal wees.

Die munisipaliteit het inwoners versoek om water te stoor, dit spaarsamig te gebruik en aangekondig dat verdere opdaterings gekommunikeer sal word sodra meer inligting beskikbaar is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Wayne van der Walt

Wayne van der Walt, with around 15 years in the media industry, is editor of Highvelder Newspaper. His accolades include Frewin Awards for Newspaper of the Year and Front Page of the Year, and FCJ Photographer of the Year, among other honours.

Related Articles

Back to top button