Local news

Hoenderbroeiery op Morgenzon kom onder skoot oor bewering van gratis watergebruik

Die Lekwa Plaaslike Owerheid het aangedui dat hulle die saak met die hoenderbroeiery sal opneem.

MORGENZON – Terwyl die dorpenaars al vir maande lank met hulle hande in die hare sit oor krane wat slegs drup-drup, floreer sake by die Ubuhle Siyazenzela Hoenderbroeiery, wat onder die Departement van Landbou, Grondhervorming en Plattelandsontwikkeling val, waar daar na bewering 180 000 L gratis water daagliks afgelewer word.

Die onkostes wat deur die hoenderbroeiery in hierdie transaksie aangegaan word, kom volgens werkers van dié onderneming slegs van die vervoer daarvan deur Fusi Transport.

Ondersoek na watergebruik

Hoëvelder het ondersoek gaan instel nadat inwoners vrae begin vra het oor die watergebruik van die broeiery.

Piet Makhanye, ’n instandhoudingswerker, en Ntombifikile Mbatha, ’n algemene skoonmaker op die perseel, was gewillig om openlik te gesels.

Makhanye het gesê dat hulle sedert 2022 nie meer water by die hoenderbroeiery het nie.

Sedertdien het hulle glo toestemming van die Lekwa Plaaslike Owerheid ontvang om gratis water by die munisipale waterpunt/brandkraan op die R39 agter Savuti Transport, op die dorp te gaan afhaal.

Hoëvelder het gevra of daar enige dokumentasie is om hierdie ooreenkoms te bekragtig, waarop Makhanye gesê het dat Njabulo Nzothso, die bestuurder van die broeierplaas, wel in besit van so ’n ooreenkoms is.

Hy was nie op die perseel ten tyde van die onderhoud nie. Daar is volgens Makhanye 10 mense wat op die plaas werk.

Sommige werkers van Ubuhle Siyazenzele Broeiery noem dat daar daagliks 180 000 L water vanuit hierdie waterpunt getrek word. Foto | Wayne van der Walt

Die onkostes van die hoenderbroeiery

Oor die hoeveelheid water wat nodig is om ses broeihuise te onderhou en produksie aan die gang te hou, het Makhanye gesê dat hulle ten minste 180 000 L water vir ’n halwe dag benodig.

“Sedert 2022 het die kuikensterftes van 3% tot sowat 7% gestyg. Sonder water kan ons nie die bedryf aan die gang hou nie.”

Mbatha het gesê dat sy die betalings aan Fusi Transport behartig, wat die broeiery R3 700 ’n dag uit die sak uit jaag.

“Soms betaal ons meer,” het sy vrywillig inligting aangebied.

Volgens Makhanye word water daagliks afgelewer, wat beteken dat die betaling aan Tholakele tot R115 000 per maand kan wees.

Fusi Transport maak sy rondes, en lewer 5 000 L water per rit aan die Ubuhle Siyazenzela Broeiery af. Foto | Wayne van der Walt

Vrae aan betrokke owerheid en rolspelers

Hoëvelder het die Lekwa Plaaslike Owerheid se woordvoerder, Lubabalo Majenge, genader met navrae rakende die ooreenkoms wat met die gemeenskap aangegaan is oor die gebruik van hierdie water, hoeveel water vanuit die waterpunt gebruik mag word, watter toesig daar by die waterpunt is en of daar enige ooreenkomste is rakende die hoeveelheid water wat deur die hoenderplaas afgehaal kan word.

Majenge het gesê dat die munisipaliteit nie toestemming aan die hoenderbroeiery of enige individue in die gemeenskap gegee het om water gratis vanuit hierdie waterpunt te trek nie.

Hy het aangedui dat die munisipaliteit die saak met die hoenderbroeiery sal opneem.

Hoëvelder het daarop gevra wat dit behels, aangesien dit al vir meer as twee jaar die geval is, wat beteken dat miljoene liters water reeds onwettig afgehaal en vir produksiedoeleindes aangewend is.

By die Ubuhle Siyazenzela Broeiery is daar 18 opgaartenks wat 10 000 L water elk stoor. Foto | Wayne van der Walt

Majenge is gevra dat sou hierdie gebruik van water onwettig wees, die gepaste aksie nie sou wees om ’n diefstalsaak by die plaaslike polisiestasie te open nie. Hoëvelder wag vir terugvoering hierop.

Ten spyte van pogings om telefonies met Nzothso in gesprek te tree, het hy geweier om dié vrae te beantwoord en net gesê dat dit teen sy beginsels is om sulke vrae oor die foon te beantwoord.

Lees die volledige berig in Hoëvelder.

Related Articles

 
Back to top button