Local news

Ermelo buig die knie in naelbytstryd teen Kriel

Met die tyd verstreke het Kriel pale toe aangelê en die strafskop suksesvol verdoel om die wedstryd te beklink.

Die Ermelo Rugbyklub het die afgelope naweek in ’n spanningsgedrewe ligawedstryd teen Kriel Rugbyklub in ’n wegwedstryd gespeel, maar moes met ’n skrale telling van 29-30 die knie buig.

Luigi Cirigliano van Ermelo het aangedui dat die spelers hulle goed van hul taak gekwyt het, ten spyte van die uitslag.

Teen rustyd was die telling 12-7 in Kriel se guns. Ermelo het egter verbete teruggeveg en hul ritme gevind. Met drieë deur Willie de Jager, Cirigliano, Bernhard du Plessis en Leon du Preez het hulle selfs diep in die tweede helfte die voortou met 26-12 geneem.

Du Preez het ook drie van sy vier verdoelskoppe suksesvol oorgeskop, en ’n strafskop tussen die latte deurgejaag.

Diean Swart stuur die bal terug met rente. Foto | Verskaf/Nic Samwell

Met die wedstryd wat einde se kant toe gestaan het, was daar ’n skrum op die halflyn waarna die skeidsregter aan Kriel ’n vryskop toegeken het. Ermelo het die skeidsregter se besluit om kort hierna ’n strafskop aan Kriel toe te staan, betreur.

Met die tyd verstreke het Kriel pale toe aangelê en die strafskop suksesvol verdoel om die wedstryd te beklink.

Na afloop van die kragmeting het Cirigliano gesê dat Kriel vanjaar die span is om te klop, omdat hulle verlede jaar se ligawenners, Standerton, sowel as Sasol 3 reeds verslaan het. “Vir ’n wegwedstryd voel ons dat ons goed presteer het.

Peet Marx tydens ’n lynstaan. Foto | Verskaf/Nic Samwell

“Daar is heelwat positiewe om uit hierdie wedstryd te neem, en ons is vasbeslote om sterker terug te keer,” het Cirigliano gesê.

Die spelers van die wedstryd vir Ermelo was voor kaptein Nicholaas Lauwrens en agter Mfundo Mposula.

Ermelo sal eerskomende naweek op hul tuisveld teen Sasol 3 uitdraf. Die wedstryd sal om 15:30 afskop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button