Local news

Inwoners genooi na pretdag om fondse vir seuntjie in te samel

'n Plaaslike onderneming nooi inwoners om fondse vir Jayden Keet in te samel.

ERMELO – ‘n Plaaslike onderneming op die dorp sal op 14 Desember ‘n pretdag ten bate van Jayden Keet aanbied en nooi die gemeenskap om die geleentheid te ondersteun.

Jayden is op 5 Oktober 2021 met esofageale atresia gebore, ‘n seldsame geboortedefek wat veroorsaak dat sy slukderm nie soos normaalweg met sy maag verbind is nie, maar aan sy lugpyp vasheg.

Dié toestand het sy vermoë om te eet en asem te haal ernstig belemmer, wat vir sy gesin en mediese span ‘n enorme uitdaging was.

Toe hy slegs vier dae oud was, het hy ‘n operasie ondergaan waartydens die dokters gepoog het om dit reg te stel, maar dit was nie suksesvol nie.

In die daaropvolgende twee jaar moes Jayden sowat 26 keer operasies en prosedures ondergaan om sy slukderm te herstel, sodat hy uiteindelik normaal sal kan eet en drink.

Op 26 November verlede jaar het hy heeltemal ophou asemhaal en is hy dringend hospitaal toe gejaag.

Die dokters het ontdek dat sy slukderm weer aan sy lugpyp vasgegroei het, wat beteken dat sy toestand baie vererger het.

Die slukderm was só ernstig beskadig dat ‘n deel daarvan verwyder moes word.

Hoewel hierdie nuus vir sy gesin ‘n groot terugslag was, is hulle steeds vasberade om Jayden ‘n kans op ‘n normale lewe te gee.

In Januarie sal hy weer geopereer word om sy maag lig te maak en die oorblywende stuk van sy slukderm aan die maag te heg.

Dit sal hom in staat stel om weer te begin eet.

Die eienaars van Zoom Zoom Motorcycles bied hierdie pretdag aan om geld vir hierdie operasie in te samel.

Dit sal om 11:00 by Murraystraat 23 plaasvind, met hope pret vir die jongspan.

Vir meer inligting, skakel Jessica Abbott by 079 500 5429.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button