Local news

Liggies se gr. 8-leerders hou groentjiekonsert en ontvang baadjies

Die graad 8-leerders het uitgehaal en wys en op die verhoog geskitter tydens die groentjiekonsert.

Ligbron Akademie vir Tegnologie se gr. 8-leerders het op 6 Februarie hul oriënteringsprogram met hul jaarlikse groentjieskonsert en baadjieseremonie afgesluit, wat ’n hoogtepunt vir elke leerder was.

Die gr. 8-personeel, die leerderraad en die gr. 8-leerders het drie weke lank hard gewerk om hierdie produksie op die planke te bring.

Die oriënteringsprogram, onder leiding van Gert en Carien Pretorius, is daarop gemik om kinders van verskillende skole saam te bring en hulle die geleentheid te gee om nuwe vriende te maak.

Hulle het die ‘Liggie-manier’ van dinge doen geleer en veral in die vinnige pas van die hoërskool begin inval.

Die tema van die 2025-konsert was gunstelinganimasiefilms.

Die leerderraad se uitdaging was om twee onderwerpe kombineer: ’n animasiefilm en ’n spesifieke afdeling van die skool, en dit ’n ‘Ligbron-baadjie’ aan te trek.

Ligbron se leerderraad het die gr. 8-groep se kerse aangesteek. Foto | René Joubert

Aladdin moes Ligbron se verbruikersentrum red, en Simba het tot sportkaptein en motiveerder van Ligbron se sportspanne gegroei.

Die leerderraad was besonders kreatief en het fyn humor gebruik om Ligbron by hierdie ikoniese films te betrek, en die besonderse kostuums en grimering het lewe in die vertonings geblaas.

Die kompetisie tussen die klasse was straf.

Gr. 8R het met hulle kombinasie van Shrek en akademie die derde plek ingeneem, en gr. 8O het dit reggekry dat Moana Ligbron se koshuise so goed adverteer dat hulle die tweede plek ingeneem het.

Die wenklas was gr. 8L, wat Ligbron se kultuuraktiwiteite met Frozen saamgesmelt het, waar Anna se ware liefdesdaad was om haar ‘blou baadjie’ vir Elsa te gee.

Die aand is met ’n baadjieseremonie afgesluit, waartydens die leerderraad die graadagts se baadjies vir hulle aangetrek het en hul kerse aangesteek het.

Die baadjieseremonie is ’n jare lange tradisie by die skool, en hierdie een sal elke Ligbron-leerder vir die res van hul lewens onthou.

Gert Pretorius, die graadvoog vir die graadagts, sê dat hy besonders beïndruk is met dié groep van 2025, wat met die geesbeker tydens die interhuiskompetisie reeds gewys het dat hulle ’n positiewe groep met deursettingsvermoë is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button