Local news

‘Tuin van iets besonders’ spruit binnekort in Ermelo

Quinita Stoltz nooi kinders en ouers om die nuwe gemeenskapsprojek in Strijdomstraat saam te help bou en versier.

ERMELO – Plaaslike inwoner Quinita Stoltz het onlangs besluit om ’n eenvoudige stuk grond in Strijdomstraat in iets besonders te verander – ’n plek van kleur, hoop en gemeenskapsgees.

Sy nooi nou die hele gemeenskap, veral kinders en hul ouers, om saam te help om hierdie droom ’n werklikheid te maak.

Die Strijdomstraat-terrein waar werk aan die “Tuin van iets besonders” reeds begin het, met voorbereidings vir aanplantings en versierings.
Die eerste stappe is geneem en hierdie lappie grond in Strijdomstraat word tans voorberei vir Ermelo se eie “Tuin van iets besonders”.

Die projek, wat bekend staan as die “Tuin van iets besonders”, het ten doel om die kaal lappie grond in ’n kleurryke en positiewe ruimte te omskep wat geluk en saamhorigheid uitstraal.

Die eerste stap is reeds geneem toe die terrein onlangs skoongemaak en voorberei is vir aanplantings en versierings.

Voorbereide stuk grond in Strijdomstraat waar die Tuin van iets besonders in Ermelo geskep gaan word
Die stuk grond in Strijdomstraat is skoongemaak en gereed gemaak vir die volgende fase van die Tuin van iets besonders.

Die afgelope naweek het die eerste aanplantings plaasgevind, en die area is verder skoongemaak om die tuin gereed te maak vir die volgende fase.

Vanoggend is Lucky Nkosi gesien waar hy druk besig was om die tuin verder skoon te maak.

Die groot dag breek egter eers op Saterdag,1 November om 09:00 aan, wanneer die tuin amptelik bekendgestel en vir die publiek oopgestel word.

Stoltz sê sy hoop die opening sal ’n geleentheid wees waar inwoners saam iets mooi kan skep – ’n simbool van wat moontlik is wanneer mense hande vat.

“Ek wil hê die tuin moet ’n plek wees waar almal kan bydra,” sê sy.

“Ek wil hê mense moet dit as hulle eie sien – ’n ruimte wat met tyd aanhou groei en verander soos ons dorp self.”

As deel van die voorbereiding moedig Stoltz inwoners aan om by die huis klippies te verf met woorde, patrone of kleure wat vir hulle vreugde bring. Hierdie klippies kan tydens die opening in die tuin neergesit word om mettertyd ’n kleurvolle rand te vorm.

Die eerste aanplantings in die Tuin van iets besonders in Ermelo is onlangs aangebringTitle: Eerste aanplantings in die tuin
Die eerste plante is onlangs in die Tuin van iets besonders geplant, ’n stap nader aan die amptelike opening op 1 November

Sy het onlangs ’n skenking van ’n klomp klippe ontvang, wat sy vooraf in die tuin sal plaas vir mense wat dalk nie klippe het om self te verf nie.

“Mense is welkom om hier ’n paar klippe te kom optel, dit kreatief te versier, en dit tydens die opening weer in die tuin neer te lê,” het sy gesê.

Sy sê daar is egter geen sperdatum nie – almal kan steeds na die bekendstelling van die tuin bydra en deel wees van die groei daarvan.

Stoltz hoop dit sal oor tyd ’n simbool van trots en saamhorigheid vir Ermelo word, ’n herinnering dat klein dade groot verskil kan maak.

Vir navrae of om betrokke te raak, kontak Stoltz by 076 368 2409.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Wayne van der Walt

Wayne van der Walt, with around 15 years in the media industry, is editor of Highvelder Newspaper. His accolades include Frewin Awards for Newspaper of the Year and Front Page of the Year, and FCJ Photographer of the Year, among other honours.

Related Articles

Back to top button