Oud-Erries gereed om vuiste te swaai in gewilde Moer ’n Boer-reeks
Gustav Kotze (klas van 2013) en Billy van der Walt (klas van 2022) het hul plekke in die finale groep van 20 verseker.
Twee oud-leerders van Hoërskool Ermelo, Gustav Kotze en Billy van der Walt, is aangewys as deel van die gesogte top 20 vir die derde seisoen van die TV-reeks Moer ’n Boer.
Die kompetisie het groot belangstelling gelok, met sowat 170 inskrywings van regoor Suid-Afrika.
Slegs 80 deelnemers het uiteindelik aan die nasionale uitdunne deelgeneem, waar Kotze (klas van 2013) en Van der Walt (klas van 2022) hul plekke in die finale groep van 20 verseker het.
Oor die volgende ses maande sal deelnemers ’n intensiewe program volg wat fokus op gemengde vegkuns (MMA).
Die proses is daarop gemik om hulle fisies en geestelik te ontwikkel, asook hul uithouvermoë te toets.
Van der Walt het gesê die oomblik toe hy hoor hy is gekies, was besonder betekenisvol.
“Ek was ongelooflik opgewonde en dankbaar toe ek hoor ek is deel van die 20 boere wat gekies is. Dis ’n groot geleentheid en ook ’n bevestiging dat al my harde werk tot dusver vrugte afwerp,” het hy gesê.
Hy beskryf die uitdunne as intens en uitdagend.
“Die grootste uitdaging tot dusver was definitief die intensiteit van die uitdunne, en ons eerste seminaar was ’n groot verrassing,” het hy gesê.
Van der Walt berei hom fisies voor deur gereelde oefening, met ’n fokus op MMA, krag en kondisionering, en werk saam met afrigters Cedric Doyle en Niel Geyser.
Volgens hom speel geestelike voorbereiding egter die belangrikste rol.
Kotze het gesê hy was verras toe hy die oproep ontvang dat hy gekies is.
“Met al die afwagting was ek geskok toe my foon lui… dit het gevoel soos ’n droom wat skielik ’n werklikheid geword het,” het hy gesê.
Hy meen die grootste uitdaging lê daarin om deur moeilike oomblikke te druk.
“Daar kom ’n punt waar jy harder moet druk in plaas daarvan om op te gee. Dis deel van die groeiproses,” het hy gesê.
Kotze het ná die uitdunne by ’n gimnasium in Ermelo aangesluit waar hy aan MMA-opleiding deelneem.
Hy beskryf die ervaring as besonders en sê hy voel bevoorreg om deel te wees van dié ‘eens-in-’n-leeftyd avontuur.’
Albei deelnemers het aangedui dat hulle daarop fokus om hul beste te gee en die meeste uit die ervaring te leer.
Die Errie-gemeenskap het reeds hul sterk ondersteuning aan die twee deelnemers uitgespreek.



