Internasionale erkenning vir Ermelo se jong fotograwe
Twee jong Ermelo-fotograwe het internasionale medaljes gewen en uitnodigings na Rusland ontvang ná hul uitstekende prestasies in wêreldwye fotosalonne.
ERMELO – Die jeug van die Ermelo Fotoklub het uitstekend gevaar by twee internasionale fotosalonne en het medaljes sowel as internasionale erkenning verwerf.
Luané Kruger, ‘n gr. 7-leerder van Laerskool JJ van der Merwe, en Kyla Eksteen, ‘n gr. 10-leerder van Ligbron Akademie vir Tegnologie, het verskeie medaljes by kompetisies in Rusland en Duitsland gewen.
Die twee jong fotograwe is ook genooi om hul medaljes persoonlik tydens ‘n seremonie in Chelyabinsk, Rusland, te ontvang, maar die koste van vliegtuigkaartjies maak die reis tans onmoontlik.
Volgens die klub sal Suid-Afrika se jeugverteenwoordiger die medaljes in Junie namens hulle ontvang.
Die internasionale kompetisies het jong fotograwe van regoor Suid-Afrika die geleentheid gebied om as deel van die “PSSA Youth Photographers of South Africa” deel te neem.
In die V International Photo Contest “No Frames”, in Rusland, het Suid-Afrikaanse jeugfotograwe die Best Photo Club Award Gold verower.
Altesaam 101 leerders van 20 skole en klubs landswyd het aan die salon deelgeneem.
Van dié deelnemers het 80 leerders saam 414 internasionale aanvaardings ontvang, insluitend 20 eervolle vermeldings, twee goue medaljes, vier silwer medaljes en vier bronsmedaljes.
Die prestasies van Luané en Kyla word as ‘n groot eer vir die Ermelo Fotoklub en die plaaslike gemeenskap beskou.



