Local news

Ermelo-karateka opgewonde oor Indo Pacific Cup in Mauritius

’n Braaikompetisie met pryse ter waarde van meer as R7 500 is van stapel gestuur om fondse in te samel vir Amerieke Lategan.

ERMELO – ‘n Braaikompetisie is onlangs van stapel gestuur om die laaste fondse vir Amerieke Lategan in te samel vir haar deelname aan die Indo Pacific Cup in Mauritius.

Die agtjarige leerling van Laerskool JJ van der Merwe is vroeër vanjaar gekies om Suid-Afrika by die internasionale karatebyeenkoms te verteenwoordig wat van 21 tot 28 September plaasvind.

Volgens haar ouers word daar nog sowat R16 500 benodig om die toer moontlik te maak.

Die fondse sal aangewend word vir uitgawes soos reis, verblyf, deelname en ander kostes wat met die toer gepaard gaan.

Om die tekort te help aanvul, is ‘n geldinsamelingskompetisie met braaiverwante pryse ter waarde van meer as R7 500 geloods.

Die kompetisie sluit pryse vir die eerste drie plekke in.

Die eerste prys bestaan uit ‘n rokerbraai en ‘n 24 stuk-braaigereedskapstel. Die tweede prys sluit ‘n draagbare braai met drasak en ‘n 13 stuk-braaistel met voorskoot in.

Die derde prys bestaan uit twee LED-braailigte en 14-in-1-oorlewingsstel.

Inskrywings kos R150 elk, en deelnemers kan meer as een inskrywing koop.

Die kompetisie sluit op 17 Julie, terwyl die trekking op 18 Julie om 17:00 plaasvind.

Wat as ‘n liefde vir die fliek “Karate Kid” begin het, het binne minder as ‘n jaar verander in ‘n internasionale geleentheid vir dié jong karateka.

Sy oefen by die JKA Ermelo Dojo onder leiding van Sensei Madelein Coetzee en het reeds van witbelt tot Oranje 1 gevorder.

“Sy het aanvanklik geskrik omdat sy nie besef het dit is oorsee nie, maar nou is sy bitter opgewonde oor die avontuur wat voorlê,” het haar ma, Liza Thiart vertel.

Ongeveer 12 lande, insluitend Suid-Afrika, Japan, Australië, Rusland en Duitsland, neem aan die kompetisie deel.

Buite die dojo is Amerieke ‘n saggeaarde dogtertjie met ‘n liefde vir superhelde en die “Power Rangers”-reeks.

Amerieke se grootste droom is om eendag self ‘n Sensei te wees en ander kinders te leer om hulself te verdedig en selfvertroue te bou.

Haar ouers hoop sy leer uit dié ervaring dat sy eindelose potensiaal het, nooit moet opgee nie en altyd nederig moet bly.

Die toerkostes beloop sowat R45 000 en die gesin het reeds die R25 000-deposito betaal, maar is nou hard aan die werk om die laaste R16 500 in te samel.

Mense wat steeds wil help met skenkings, kan bydraes maak in die volgende rekening: F Myburgh, Capitec; Rekeningnommer: 1643157521; Spaarrekening; Verwysing: Amerieke.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button