Nuwe toerusting gereed vir komende brandseisoen
Die Brandbeskermingsvereniging het nuwe brandbestrydingstoerusting aan verskeie sektore oorhandig nadat boere hul unieke behoeftes geïdentifiseer het.
ERMELO – Die Brandbeskermingsvereniging het op 21 Julie toerusting aan hul verskillende sektore oorhandig tydens ’n gesellige byeenkoms wat by MNE Verhurings plaasgevind het.
Die toerusting is aangekoop nadat boere in elke sektor gevra is om hul spesifieke behoeftes aan te dui.
Volgens Hein Mentz was dit opvallend hoe die behoeftes van een gebied na die volgende verskil.

“Dit was interessant om te sien hoe elke area sy eie unieke behoeftes het. Daarom het ons probeer om die toerusting aan te koop met die boere se behoeftes in gedagte,” het Mentz gesê.
Die doel van die projek is om sektore beter voor te berei vir die brandseisoen wat voorlê en sodoende die risiko van veldbrande en die skade wat dit kan veroorsaak, te beperk.

Die groep het ook toerusting aan ACSU oorhandig, wat aangebied het om die kleinhoewe buite die dorp tydens brande te ondersteun.
Mentz het sy waardering uitgespreek teenoor almal wat tot die projek bygedra het.
Dit was vir die Brandbeskermingsvereniging belangrik om die toerusting plaaslik aan te koop, om ook so weer terug te gee aan die gemeenskap.
Die vereniging glo die nuwe toerusting sal ’n belangrike rol speel om vinniger en meer doeltreffend op veldbrande te reageer en sodoende mense, eiendom en landbougrond tydens die komende brandseisoen te beskerm.



