Local news

Gips keer nie jong Ermelo-bergfietsryer

'n Gebreekte pols en gips was nie genoeg om die jong bergfietsryer Miané Purcocks van die TWK-skoleligabaan weg te hou nie.

ERMELO – Slegs dae nadat Miané Purcocks ’n fraktuur aan haar hand opgedoen het, het sy bewys dat ware deursettingsvermoë nie deur gips gestuit kan word nie.

Vir Miané, wat ’n groot liefde vir bergfietsry het, was die grootste teleurstelling die gedagte dat sy moontlik die TWK-skoleligawedren sou moes misloop.

Haar ouers het eers vermoed dat dit net ’n verstuiting was, maar X-strale het gewys sy het ’n fraktuur aan haar regterpols opgedoen.

Sy is dieselfde dag met pienk gips aan die arm huis toe.

Miané Purcocks gerat met haar pienk gips tydens die derde ronde van die TWK XCO MTB-skolereeks. Foto | Wayne van der Walt

Daar was egter goeie nuus toe die dokter bevestig het dat sy wel kan deelneem, mits sy gemaklik voel en die gips haar pols voldoende beskerm.

Met vasberadenheid het Miané op 25 Julie by die Ligbron Akademie vir Tegnologie aan die derde ronde van die TWK XCO MTB-skolereeks deelgeneem.

Haar ma, Marcellle, vertel Miané het versigtig gery, haar bes gedoen en uiteindelik ’n sesde plek behaal.
Vir haar gesin gaan die prestasie oor veel meer as ’n eindposisie.

“Dit gaan oor haar deursettingsvermoë, haar moed en die feit dat sy nie toegelaat het dat ’n terugslag haar passie wegneem nie,” vertel haar ma.

Hulle hoop Miané se verhaal sal ander kinders aanmoedig om nie moed op te gee wanneer dinge onverwags skeefloop nie.

“Soms is die grootste oorwinning nie ’n medalje of ’n podiumplek nie, maar die moed om weer op jou fiets te klim en aan te hou trap – selfs met pienk gips om jou arm.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button