31 kanonne sal op Erfenisdag regoor Suid-Afrika knal
Van Simonstad tot Lephalale word historiese kanonne ingespan vir ’n besondere Erfenisdag-herdenking van vroeë kommunikasie.
Op 24 September, Erfenisdag, sal die Suid-Afrikaanse Kanonniersvereniging (CAOSA) ’n besondere landwye kanonkettingskoot aanbied ter herdenking van die historiese Hollandse kanonoproepstelsel wat in die 17de eeu aan die Kaap gebruik is om boodskappe oor groot afstande te kommunikeer.
Altesaam 31 kanonne sal op vasgestelde tye vanaf verskillende plekke regoor Suid-Afrika afgevuur word.

Die ketting strek van Simonstad en Kaapstad tot Lephalale in Limpopo.
Die historiese stelsel het volgens CAOSA ontwikkel as ’n kommunikasiestelsel waarmee waarskuwings, bevele en ander belangrike boodskappe tussen afgeleë poste oorgedra is.
Teen die 18de eeu het die netwerk tot meer as 40 stasies uitgebrei.

Die Voortrekkermonument sal om 13:00 aan die gebeurtenis deelneem.
Volgens Dawid Brand, bedryfshoof: bemarking en kommunikasie van die Kultuurtuiste, sal ’n skoot met die replika van Grietjie tydens die Toeka tot Toekoms Erfenisdagfees afgevuur word.
Brand sê die kanontradisie vorm reeds meer as drie eeue deel van Suid-Afrika se geskiedenis.

Kanonne soos Grietjie en Susanna, wat by die Voortrekkermonument ’n tuiste gevind het, is volgens hom deel van die land se militêre en kulturele erfenis.
Die kettingaksie sluit onder meer die Kasteel die Goeie Hoop, FAK se Udolpho-Rivierplaas buite Parys, Bloedrivier, die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, Long Tom-pas en Waterval Boven in.
Die 2026-geleentheid val ook saam met CAOSA se 21ste bestaansjaar.

Die vereniging werk sedert 2005 aan die opsporing, dokumentering en bewaring van historiese kanonne.
Lede van die publiek word uitgenooi om die kanonskoot by die Voortrekkermonument te beleef en Erfenisdag saam met hierdie unieke stuk Suid-Afrikaanse geskiedenis te vier.
Vir meer inligting, kontak dupreezdevilliers@kultuurtuiste.org.za



