Vreugdetrane toe 14-jarige Mienkie veilig in Ermelo gevind word
Die Van Schalkwyks het gevrees vir hul bejaarde hond se veiligheid nadat sy Saterdagaand ongemerk uit die erf geglip het.
ERMELO – Dae van angs het vandag in vreugdetrane geëindig toe Santa en Johan van Schalkwyk met hul 14-jarige, byna blinde hond, Mienkie, herenig is.
Mienkie, wat al haar hele lewe lank deel van die Van Schalkwyk-gesin is, het Saterdagaand ongemerk uit hul erf geglip.
“Johan het omstreeks 19:30 die hek gaan sluit sonder om te besef dat Mienkie saam met hom uitgegaan het,” vertel Santa
Toe Santa haar omstreeks 20:00 roep en haar nie in die huis kon kry nie, het hulle besef sy is weg.
Omdat Mienkie byna heeltemal blind is en nie daaraan gewoond is om alleen uit te gaan nie, het hulle onmiddellik begin soek.
“Ons het net besef: Hoe gaan sy haar weg vind? Sy kan nie sien nie en sy is nie gewoond om uit te gaan nie,” het Santa gesê.

Die gesin het ook ’n beroep op die gemeenskap gedoen om vir Mienkie uit te kyk.
Omstreeks 16:10 vandag het die oproep waarop hulle gehoop het gekom.
’n Man, Africa Mamba, het Santa gebel nadat hy die advertensie oor Mienkie gesien het. Mienkie het vroeër die dag by sy huis in die SunCity-uitbreiding opgedaag.
“Vir ons as gesin, met gebede wat verhoor is, is daar net vreugde en dankbaarheid teenoor die man,” het Santa gesê.
Mienkie is nou weer veilig by die huis saam met die gesin waarvan sy reeds 14 jaar lank deel is.
Lees meer oor Santa en Johan se slapelose nagte, hul desperate soektog, die oomblik toe Mienkie hulle aan hul reuk herken het en Santa se boodskap aan ander troeteldiereienaars in die Hoëvelder se gedrukte uitgawe.



